Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 12 Mei

TEMA: EK, MY WERK EN GOD

Liewe Vers’ndag-lesers, by wyse van afwisseling is ek Meimaand aan die beurt en hoop van harte dat die stukkies vir hierdie maand iets vir iemand êrens in die kuberruim iets gaan beteken. Aangesien die meeste lesers waarskynlik in ʼn beroep staan of by een of ander ander organisasie werksaam is, het ek gedink om die week so ʼn bietjie te gesels oor die werkplek en hoe jy jou daar gedra. Diegene wat werkloos is of nie hoef te werk nie kan dalk ook baat vind by die onderliggende boodskap. Dit gaan immers ook oor hoe jy jou in jou huisgesin, op die skoolkomitee, die tennisklub en die samelewing oor die algemeen laat geld.

Geniet die week saam met God by die werk.

Groete

Hennie Symington

1. Ek werk, daarom is ek

Hennie Symington

Daar’s ʼn spreekwoord wat lui: “Ledigheid is die duiwel se oorkussing” en as jy so kyk na ons prestasiegedrewe kultuur lyk dit of sommige mense dit al te letterlik opneem. Ons glo mos, as jy nie ʼn werk het nie, tel jy nie. en ons almal weet daar is ʼn direkte verband tussen die werk wat jy doen en status.

Tog lyk dit asof die Bybel nie vreeslik simpatiek staan teenoor “werkoliste” nie. Jesus waarsku dat ʼn mens nie van brood alleen kan lewe nie terwyl die ou Testament in besonder begaan is oor regverdigheid teenoor die dagloner in die werkplek en gaan sover gaan as om aanbevelings oor lone te maak (Lev. 19:13; Mal.3:5). Dit wil voorkom asof die Bybel eerder aan die kant van die ouens onder op die ranglys of suksesleer as die base of “fatcats” daarbo. Miskien omdat hulle meestal diegene is wat meer  weerloos staan teenoor uitbuiting.

Werk as opdrag van God

Hoewel werk ʼn opdrag van God is en daar van ons verwag word om met ons talente te woeker, lyk dit of hierdie opdrag dikwels verkeerd verstaan word. Vir wie werk ons per slot van sake. Paulus sê: “...ook julle is geroep om aan Christus te behoort,” (Rom. 1:6) en ook dat slawe hulle nie moet kwel oor die feit dat hulle slawe is nie, want hulle verhouding tot God is baie belangriker as die werk wat hulle doen.

Wie’s jou baas?

Elkeen wat aan sy beroep verslaaf is en met sy werk getroud is, moet homself af en toe afvra: Wie’s my eintlike baas? Wy ek my net so toe aan God as aan my werk? Trek ek die kantoordeur letterlik of figuurlik agter my toe op Sondae of word daar sewe dae ʼn week gewoeker. Waar trek ek die streep wat my werk betref?

Daar is nie ʼn eenvoudige antwoord nie want mense verskil want wat vir een harde werk is is vir ander ʼn plesier.

Miskien moet ʼn mens van die standpunt uitgaan dat indien my werk vir my voldoening bring, sonder om my verhouding met God of my medemens te benadeel, ek God vir voorreg van werk moet bedank.

Gebed vir vandag

Here, ek moet erken dat my werk byna ʼn obsessie geword het en dat dit besig is om tussen my en my medemens staan. Help my om ʼn balans te kry wat my toelaat om my werk sowel as die volle rykheid van my lewe te ervaar en te geniet.

Vers vir vandag

Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,

maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie.Eks.20:9-10

Previous article: Vers n dag - 13 Mei Prev Next article: Vers n dag - 11 Mei Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.