Vers n dag - 22 Maart 2013
Juwele uit die skatkis van die Psalms (15)
Tel die dae
Neville Turley
Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. Psalm 16:9-10
Dit is nog sewe dae tot Goeie Vrydag, 2013.
Baie mense sal die langnaweek gebruik as 'n geleentheid om 'n kort vakansie te geniet of om familie en vriende in ander dele van ons land te gaan besoek.
Duisende mense sal van ons paaie gebruik maak om hulle bestemmings so vinnig moontlik in die kort tydjie tot hulle beskikking te bereik. Kyk ons na vorige jare, kan swaar verkeer verwag word. Ongelukke gaan plaasvind en die slagting op ons paaie bly 'n probleem.
Duisende mense gaan ook die kerke volpak. Gereelde en nie-so-gereelde kerkgangers gaan in hierdie tyd, een van die belangrikste tye op die Christelike kalender, bymekaar kom om die God te aanbid.
Op Goeie Vrydag herdenk ons die dood van Jesus Christus aan die kruis. Ons dink aan die fisiese lyding, die angs en die vernedering van die regverdigste mens wat ooit geleef het. Ons dink aan sy groot liefde vir ons. Hy, wat sonder sonde was, het ons sondes op Hom geneem om ons verlossing te verseker.
En toe op daardie eerste Paassondag het Jesus Christus uit die dood opgestaan. Sy liggaamlike opstanding is die hoeksteen van ons geloof. Hy het dit ook vir ons moontlik gemaak om nie aan die dood oorgegee te word nie, maar om met sy wederkoms nuwe onsterflike liggame te ontvang.
Voordat Hy opgevaar het na die hemel het Jesus 'n baie spesiale boodskap vir sy dissipels gehad: ... dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is. So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, ... Lukas 24:44-47
God het ons lief. Dit maak nie saak wie of wat ons is nie of hoe opgemors ons lewens is nie. God wil en sal aan ons 'n nuwe lewe skenk as ons ons sondes bely en Hom vra om ons te vergewe. Hou dit in gedagte in hierdie komende week voor Paasfees.
Gebed: Hemelse Vader, U het in liefde u Seun gestuur om sy lewe op te offer sodat ons die ewige lewe kan hê. Gee dat ons hierdie Paastyd deur ons getuienis u Naam sal vereer. Amen