Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 24 April 2013

Toeris of pelgrim?

Hennie Symington

Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon,’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. Hebreërs 11:8-10

Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

Jesus het vir hom gesê:”Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.” Johannes 14:5-7

Geloof is ʼn pelgrimstog

Godsdiens vandag is iets soos ’n toeristeparadys. Mense hou daarvan om slegs die hoogtepunte te ervaar en as dit nie na hulle sin is nie beweeg hulle aan.

’n Beter manier om langs hierdie weg te reis is die van ’n pelgrim op die roete wat deur God vir ons uitgespel is. Elkeen wat die pelgrimstog aanpak is opnuut soos ’n Abraham wat agter ’n stem aan die wildernis in getrek het.

Galery van pelgrims

In Hebreërs 11 wys die apostel Petrus vir ons ’n hele fotogalery van pelgrims wat die agterpaaie geneem het en ’n onsigbare koninkryk ontdek het. Die apostel beskryf hierdie pelgrims as vreemdelinge op hierdie wêreld. Soos ons is hulle immigrante met ’n tydelike verblyfpermit in ’n vreemde land. Ons hoort nie eintlik hier nie, en pas nie eintlik in by die tye waarin ons leef nie. Ons is burgers van ’n land met ’n “ander koning” wie se koninkryk nie van hierdie geweste is nie. Ons is, in die woorde van Paulus, ambassadeurs van daardie veraf koninkryk wat daagliks geloofsbriewe met ons eintlike koning uitruil.

Die gevaar is natuurlik dat ons ons so gemaklik tuismaak hier op aarde dat ons vergeet waarvandaan ons kom. En voor ons weet is ons genaturaliseerde burgers van ’n vreemde land. Deur ons kompas op koers en ’n teleskoop op ons bestemming te hou, sal ons tuiskom daar waar ons Koning reeds met verlange uitsien na sy kinders se koms.

Gebed vir vandag:

Here, vergewe ons dat ons so gemaklik ingeburger raak in die aardse. Dankie vir u reisprogram wat ons oog op ons eintlike bestemming rig. Amen

Previous article: Vers n dag - 25 April 2013 Prev Next article: Vers n dag - 23 April 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.