Dien van bo-af 12 Julie 2013
Xanthe Galanis
Na die sewe jaar voorspoed in Egipte het die sewe jaar hongersnood begin. So het Josef dit destyds aangekondig. In al die lande was daar hongersnood, maar in die hele Egipte was daar kos, want toe die hongersnood Egipte tref en die mense vir die farao kos vra, het hy vir al die Egiptenaars gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy sê.” Genesis 41:53-55
Ons beëindig ons studie oor diensbaarheid deur meer van Josef te leer. Josef was duidelik 'n charismatiese man met 'n sterk persoonlikheid; jy kan selfs sê hy was 'n gebore leier. Hy het egter nie altyd dieselfde voorbeeldige leierseienskappe aan die dag gelê soos toe hy faro se tweede in bevel was nie. Die eerste keer wat ons hom ontmoet, is hy 17 jaar oud en jaag hy sy broers die harnas in met die storie dat hy eendag oor hulle almal gaan regeer. Josef is taktloos en onsensitief vir die manier waarop sy broers reageer en dit het hom byna sy lewe gekos. (Jy kan die deel van sy verhaal in Genesis 37 lees.)
Josef se loopbaan neem hom van 'n slaaf tot die belangrikste amptenaar in die land. Soos Josef volwasse geword het, het hy geleer om die karaktereinskappe waaroor hy inherent beskik het op so 'n manier te ontwikkel dat dit hom gehelp het om ander te kon help. In elke situasie het hy die geleentheid raakgesien om 'n leier te wees wat ander dien. Toe die faro hom oor die hele Egipte aangestel het, insluitende in beheer van die land se voedselvoorraad, kon hy gedoen het wat so baie leiers doen en sy mag misbruik het vir persoonlike gewin. Maar Josef het 'n getroue rentmeester gebly. Hy het sy mag gebruik beide om na al die Egiptenare om te sien sowel as om sy eie familie te verenig.
Diensbaarheid kom in alle verpakkings. Miskien is jy soos Rut, stil en prakties en gaan aan met jou werk of miskien is jy meer soos Josef, 'n charismatiese, natuurlike leier. Dit maak nie saak wat jou persoonlikheid is nie, of oor watter gawes en talente jy beskik nie, jy is volkome toegerus om God vandag te dien net soos jy is.
Gebed: Here, U het my volgens u beeld gemaak sodat ek U op 'n manier kan dien soos net ek kan. Help my om die gawes wat U aan my gegee het te gebruik om U elke dag nog beter te dien. In u Naam bid ek dit. Amen