Vrug van die Gees 2: Vreugde 23 Julie 2013
Xanthe Galanis
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Galasiërs 5:22-23
En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met 'n blydskap wat van die Heilige Gees kom. 1 Tessalonisense 1:6
Ons wil almal gelukkig wees. Ons hou van dinge wat ons laat lag en wat ons goed oor onsself laat voel. Ons is gelukkig wanneer ons dag goed verloop of wanneer ons met vakansie gaan of ons rugbyspan op die wenpad is. Daar is niks daarmee verkeerd nie, maar dit is nie waarna Paulus hier verwys nie. In werklikheid het Jesus ons nooit beloof dat om 'n Christen te wees ons gelukkig sal maak nie, maar wel dat dit ons ware vreugde sal bring. So wat is die verskil?
Die Griekse woord vir 'vreugde' is kevo, afgelei van die woord charis, wat die Griekse woord vir genade is. Dit beteken dat hierdie vreugde nie mensgemaakte geluk is nie en dat dit nie, afhangende van omstandighede, kom en gaan nie. Vreugde kom van die Gees en dit floreer in moeilike tye. Vandag se vers vertel van die Tessalonisense wat te midde van vervolging steeds blydskap wat van die Gees kom, beleef het. Indien ons verstaan hoe God ons beproewings gebruik om ons geloof en karakter te bou, het ons ook rede tot blydskap. Kyk wat skryf Paulus: "Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop." (Romeine 5:3-4)
Hierdie tipe vreugde beteken nie dat ons noodwendig altyd van oor tot oor moet glimlag nie. Daar is tye wat ons niks het om oor te glimlag nie. Soms gee ons voor dat ons gelukkig is en dat alles reg is, terwyl dit nie waar is nie, maar ware vreugde is nie om 'n 'masker van geluk' op te sit nie. Ware vreugde beteken dat ons die blydskap wat in ons is moet uitleef, die vreugde wat ons het omdat ons weet dat ons verlossing in Christus veilig is. 'n Predikant het op 'n keer gesê: "Vreugde beteken nie dat lyding afwesig is nie. Vreugde is die teenwoordigheid van God."
Gebed: Here, vergewe my dat ek soms na tydelike geluk soek wanneer ek eerder na ware vreugde in U moet streef. Vul my asseblief deur u Gees met ware vreugde. Amen