Vrug van die Gees 5: Vriendelikheid & Goedhartigheid 26 Julie 2013
Xanthe Galanis
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Galasiërs 5:22-23 (a)
God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? Romeine 2:4
In vandag se samelewing is vriendelikheid dikwels oppervlakkig en kom 'n mens nie so maklik goedhartigheid teë nie. Dikwels is mense gaaf, maar goedhartigheid is nie noodwendig dieselfde as gaaf nie. Gaaf word met die Engelse woord 'nice' vertaal en die woordeboek gee meer as een betekenis vir dié woord: gaaf, aangenaam, mooi, lief. 'n Mens kan goedhartig wees, maar nie gaaf nie. Goedhartigheid beteken jy doen iets sonder om iets terug te verwag. Goedhartigheid is respek vir ander en om hulp te verleen sonder om te verwag dat iemand jou met help.
Ons moet goedheid aan ander bewys want dit is presies wat God aan ons bewys het. Deur sy goedheid het Hy ons by die hand geneem en ons tot bekering gelei. Romeine vertel ons dat deur sy goedheid wil God ons verander. God bewys goedheid aan ons, alhoewel ons dit nie verdien nie. Ons kan onsself nie voor Hom regverdig nie, nie deur boetedoening nie, nie deur ons gedrag of deur ons offers nie. Wanneer 'n mens iets van God se groot genade begryp en besef dat ons alles in onverdiende genade ontvang, stem dit jou nederig. En wanneer 'n mens waarlik besef dat ons alles wat goed is, van die Skepper van die heelal ontvang, moet ons daarna streef om tot sy eer te leef en om sy vriendelikheid en goedheid te bewys aan diegene met wie ons in aanraking kom.
Gebed: Dankie Hemelse Vader dat deur u goedheid U my tot bekering gelei het en dat ek in 'n verhouding met U staan. Help my om u goedheid uit te straal en so mense nader aan U te bring. Amen