Vrug van die Gees 8: Sagmoedigheid 30 Julie 2013
Xanthe Galanis
Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Galasiërs 5:22 (1933/53-vertaling)
Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;
1 Petrus 3:15 (1933/53-vertaling)
Coco Chanel word aangehaal as dat sy sou gesê het: “sagmoedigheid kry nie die werk gedoen behalwe as jy 'n hoender is wat eiers lê." In 'n wêreld waar krag en sterkte baie belangrik is, is dit baie maklik om sagmoedigheid as 'n swak eienskap te beskou, iets waarsonder ons kan klaarkom. Dit is selfs 'n bietjie vreemd dat Petrus hierdie woord kies om ons getuienis teenoor ander te beskryf. Hy kon woorde soos dapper, getrou, integriteit of wysheid gebruik het. Maar sagmoedigheid?
Coco Chanel was miskien 'n kenner van mode en styl, maar sy was verkeerd oor sagmoedigheid. Sagmoedigheid beteken nie swak of bang nie, en dit beteken definitief nie dat jy nooit iets sal bereik nie. Dit is verreweg nie 'n swakheid nie, sagmoedigheid is krag en sterkte wat onder beheer is en dit laat ons toe om geduldig en verdraagsaam teenoor ander te wees. Om sagmoedig te wees beteken jy beskik oor 'n gelykmatige en gebalanseerde gees. 'n Sagmoedige persoon is nie krities of veroordelend nie, maar vergewe ander en bring vrede.
Dit is die soort gesindheid wat Petrus sê ons moet hê wanneer ons geloofsake met ander bespreek. Ons is nie goeie ambassadeurs vir Christus as ons skoorsoekerig is en gereeld ander se menings verkleineer nie. Sagmoedigheid beteken egter nie dat jy met almal moet saamstem of nie opstaan vir dit waarin jy glo nie. Dit beteken dat wanneer jy van mening verskil jy dit op 'n redelike en kalm wyse sal doen en op 'n mooi manier sal uitwys waar jy verskil. Ons argumente gaan nie mense verander nie, Jesus verander mense. Jy kan 'n passievolle lewe met sterk oortuigings lei en tog nog sagmoedig wees. So kan jy groot dinge vir God bereik.
Gebed: Here Jesus, U is die volmaakte voorbeeld van sagmoedigheid. Gee dat, deur u Gees wat in my woon, mense iets van u sagmoedigheid in my sal raaksien. Amen