Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wette-loosheid, wette-voosheid, of...? 1 Augustus 2013

Dirk Taljaard

Skriflesing
Eksodus 20:1
Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: Gebooie? Wette? Moets en moenies? Dis mos waaroor godsdiens gaan? Oor dinge wat die lekker uit die lewe haal en soos ʼn swaard oor mens se kop hang?

Ongelukkig is dit hoe baie mense die Tien Gebooie verstaan: beperkend, inperkend, vreugde-stelend…. Maar ʼn ander woord vir die Tien Gebooie is die Dekaloog, wat die betekenis kan dra van Tien woorde. Soos die Here heel aan die begin alles geskep het deur woorde, deur te praat, wil Hy nog altyd skeppend besig wees. Wil Hy die verhouding tussen Hom en mense en tussen mense onderling vestig en verstewig.

Kom ons wees eerlik met mekaar: ons samelewing, ja, eintlik die hele wêreld, het nodig om weer ʼn slag te luister na woorde wat sin maak. Nie die gebrabbel van politici en wysneuse, van geleerdes en beterweters nie. Want dis hoekom alles lyk soos dit lyk.Ons praat heeldag oor wetteloosheid, anargie, verset teen alles wat ordelik is. Ons beleef korrupsie en oneerlikheid. Huwelike en gesinne verbrokkel. Menselewens word nie meer as kosbaar geag nie. Jy weet bitter min of jy op mense en hulle beloftes kan reken. Niks en niemand blyk veilig te wees nie….           
        
Hierdie Tien woorde bied ʼn veilige ruimte, waarbinne verhoudings kan gedy. Dis gevul met ʼn besondere inhoud: waardes en norme, riglyne. En telkens word mens herinner aan wat die beste pad is – nie die maklikste nie – maar die een wat ʼn gesonde lewenswyse tot stand bring en ook in stand hou.Vir die res van hierdie maand gaan ons saam dink oor dié Tien woorde, en as dit neerslag sou vind in ons lewens, kan dit ʼn dramatiese vernuwende effek in ons huise en samelewing tot gevolg hê.

Hemelse Vader, maak asseblief ons ore oop dat ons u stem tussen al die baie stemme sal hoor, vandag en elke ander dag. Amen

Previous article: Ek is - 2 Augustus 2013 Prev Next article: Vrug van die Gees 9: Selfbeheersing 31 Julie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.