Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ek roem u Naam... 12 Augustus 2013

Dirk Taljaard

Skriflesing

Eksodus 20:7

‘Jy mag nie’ of ‘moenie’ is die woorde wat kindertjies seker die meeste hoor. Dis een manier om hulle die verskil tussen reg en verkeerd te leer. Hoewel ons nie daarvan hou dat iemand ons probeer reghelp nie, het ons as kinders van die hemelse Vader nodig om te hoor wat mag en wat nie.

Ons mag nie sy Naam misbruik nie. Wat beteken dit vir ons?

• Natuurlik in die eerste plek dat ons dit nie as ‘n stopwoord gebruik nie. Mens krimp soms ineen wanneer jy hoor hoeveel keer die Naam ‘God’ en ‘Here’ sommer net in gesprekke ingeryg word. Luister maar na die tekste in flieks en ander produksies. Dis om van te huil! Ons moet mekaar maar daaroor aanspreek, veral as dit vir ons ‘n beginselsaak is dat ons Here se Naam vir ons kosbaar is. As ons niks sê nie, is ons eintlik mede-verantwoordelik vir dié misbruik.

• Ons moet versigtig wees om sy Naam nie onnadenkend te gebruik nie. Wanneer ons vír of óór Hom sing, moet dit nie maar woorde wees nie. Ons ken baie keer die liedere so goed dat ons nie meer dink wat ons sing nie. Jesus het selfs gewaarsku dat ons gebede nie ‘n aframmeling van dieselfde woorde moet wees nie (Matt 6:7). En hoe vreemd klink dit nie wanneer iemand bid en in die derde persoon van Hom praat (asof Hy nie daar is nie) of elke frase begin of afsluit met sy Naam!

• Mens sidder soms as jy hoor hoe mense namens God sekere uitsprake maak, asof ons sy manier van doen verstaan. Hoe maklik ‘verklaar’ mense - soms met die beste bedoelings ter wêreld - dinge as ‘die wil van die Here’! So word die Naam van die Here gekoppel aan die grootste onreg, die seerste pyn, die mees hartverskeurende omstandighede….

Wees maar versigtig wanneer jy die Naam bo alle ander oor jou lippe laat kom.

Here, laat u Naam ook vandag geheilig word in my lewe. Amen.

Previous article: n Gereelde rusdag - 13 Augustus 2013 Prev Next article: Lojaliteit ’n prioriteit - 8 Augustus 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.