Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Moedig mekaar aan - 14 Augustus 2013

Dirk Taljaard

Skriflesing

Eksodus 20:8-11

Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie …… Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Die rusdag behoort anders ingeklee te word as die ander ses. Anders versteur ons die ritme. Maar dis juis oor die hóé wat christene onderling verskil. Sommige is baie rigoristies en wetties oor wat mag en nie mag nie. Ander het weer ʼn baie laissez faire houding dat alles aanvaarbaar is.

Miskien is daar iets in die siening opgesluit dat dit nie gaan oor wat mag en wat nie, maar eerder watter moontlikhede dié dag bied. Gedurende ’n gewone werkweek is daar soveel dinge en mense wat ons aandag verg dat ons baie goed afskeep: ons eie geestelike groei en ontwikkeling, ons verantwoordelikheid om liefde teenoor ons naaste te wys, om ruimte te skep vir ons eie gesinne en families. Kortom, om weer asem te skep en batterye te laai.

Soms moet ons definitiewe keuses maak. Soos die persoon wat geworstel het of hy eerder by die viswaters moet sit en kerk toe verlang, of in die kerk en viswaters toe verlang. Ons kry so min geleentheid om met (G)geesgenote skouers te skuur en hande te vat. Daarom is Hebreërs se oproep nie so onvanpas nie: Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly .. nie..(Hebr 10:25). Sulke geleenthede behoort weer iets in ons wakker te maak dat ons in die voetspore van Jesus kan volg en ander gaan bedien. Want kerk is nie om bedien te word nie, maar om toegerus te word om die Here se genade te gaan uitdeel met besoeke, oproepe, SMS’e, e-posse.

Jesus het op ʼn keer gesê: Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbat nie. Kom ons rig dié dag so in dat sy koninkryk gebou word en medegelowiges gedien word. En kom ons vier dit sonder om mekaar te (ver)oordeel oor dit waaroor ons verskil.

Here, Jesus, help my om, soos U, ander te bedien met u genade. Amen.

Previous article: Ouerskap: nie kinderspeletjies nie - 15 Augustus 2013 Prev Next article: n Gereelde rusdag - 13 Augustus 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.