Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 14 Junie

POS VAKANT: GEEN CV VERLANG

Hennie Symington

Dit kom al ʼn lang pad. Die ding het al kop uitgesteek in die paradys en sy loop geneem dwarsdeur die geslagte wat gevolg het. Maar dit is eers toe Moses voor die brandende braambos, kaalvoet en met ʼn tong wat struikel bely het: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel” (Eks. 4:10), dat hierdie toestand ʼn naam gekry het: volslae onbekwaamheid voor God.

Hierdie onbekwaamheid van die mens wat hom nie omgewasse voel vir die taak van woordbediener, profeet of priester wat op hom gelê is nie, loop dwarsdeur die Bybel en die geskiedenis van die kerk soos ʼn fatale fout.

SWAK WERKSREKORD

Ons voorgeskiedenis is vol karakters wat nie heeltemal aan die profiel van ʼn godsman of -vrou voldoen het nie. Selfs in die Nuwe Testament kry ons mense in God se diens wat ernstig tekort skiet. Die ergste is, Jesus het hulle self gekies. Totaal teen die voorskrifte van gesonde besigheidspraktyke in .In plaas van geskoolde kerkmense kies Hy ongeskoolde werkers. Hy waag selfs om politiek inkorrek te wees want Hy kies vir Levi, die tollenaar, as een van sy dissipels.

Hierdie swak aanstellings duur voort tot vandag toe nog. Sondag vir Sondag sit daar sondaars op die kerkbanke wat vergeet dat hulle ʼn taak het om die koninkryk te laat kom deur die wêreld met hulle liefde te bedien.

Hoekom werk God dan so? Omdat God so oneindig lief is vir ons dat Hy nie kan verdra dat een van ons  arme sondaars uitgesluit word uit die kring van sy liefde nie. Gelukkig leer ons uit God se Woord dat wanneer ons swak is, ons juis sterk is. Hy bemagtig ons en maak ons bekwaam om elkeen op ons besondere manier iets vir sy Koninkryk te beteken.

Gebed vir vandag

Here, ek het waarlik niks om op te roem wanneer dit by diens in u Koninkryk kom nie. Dankie dat u my en duisende ander soos ek gebruik om elke dag in u wingerd te werk.

Vers ʼn dag

En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28 en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29 Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.1 Kor. 27 - 29

Previous article: Vers n dag - 15 Junie Prev Next article: Vers n dag - 11 Junie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.