Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Liefde verander alles en almal! - 9 September 2013

Quintus Heine

God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Johannes 3:16

ʼn Hele paar jaar terug was daar die animasie rolprent “Lilo en Stitch” wat in die teaters vertoon het.

Die verhaal gaan oor  ʼn wetenskaplike wat ʼn ruimtewesentjie skep met ʼn negatiewe persoonlikheid, met die naam “Stitch”.  Stitch is as negatiewe wese gemaak met die doel om  te breek en  te vernietig.

Toe word hy verban aarde toe en hier ontmoet hy ʼn eensame dogtertjie genaamd Lilo. Sy het hom liefgehad, al was hy lelik met haar. Al het hy ook alles gebreek waarvoor sy lief was, het sy hom steeds net liefde gegee! Sy het net eenvoudig aangehou om hom lief te hê! Haar liefde maak toe vir Stich – teen sy natuur in – ʼn liefdevolle wese! Skielik begin hy ook verstaan wat is liefde en begin om dit positief te leef.

Die verhaal het my aan die mensdom laat dink. Ons is eintlik vanweë die sondige natuur  nie tot iets goeds in staat nie – nes Stitch, maar die liefde van die Here aan die kruis het ons heeltemal verander. God het ons altyd lief, al breek ons dit wat Hy geskep het en al doen ons die verkeerde dinge. As jy glo dat Jesus Christus se liefde so groot is, dat Hy gekom het om in jou plek die straf te dra, sal dit jou lewe verander! Jy sal heeltemal nuut word.  Jy sal oorweldig word deur die liefde van die Here en dit sal jou weer vol liefde maak.

Liefde se krag moet nooit onderskat word nie. Daar is niks so sterk soos liefde nie. Dit verander die gehardste mens. Dit verander die sondigste mens. Liefde het lewensveranderende krag. As jy elke dag aanhoudend liefde bewys, sal dit  ʼn groot invloed op die mense rondom jou hê!

Ons is nie altyd lus om mense lief te hê nie, maar hoe meer opregte liefde jy vir iemand gee, hoe groter is die kans dat hulle ook daardie liefde sal ontvang!

Deur lief te hê kan jy iemand anders se lewe verander – soos Jesus jou lewe verander het deur sy liefde!

Gebed: Here leer my om soveel liefde uit te deel, sodat ekself en die mense rondom my, vol liefde kan word.  Amen.

Previous article: Laat ons met liefde na ander kyk - 10 September 2013 Prev Next article: Nuwe seisoen –Ja, maar nie uit eie krag. - 6 September 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.