Bekommernis - 7 November 2013
Riélle Heine
“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” Filippense 4:6-7
Paulus is in die gevangenis as hy hierdie brief aan die Filippense skryf! Ek moet sê, dit klink nie vir my na die woorde wat ek van iemand verwag wat onskuldig in die tronk aangehou word nie! Maar omdat Paulus “die vrede wat alle verstand te bowe gaan” daar midde in sy omstandighede ervaar, kan hy die gelowiges in Filippense raadgee en bemoedig. Paulus het binne in die tronk gesit en God geloof; hy het sy behoeftes voor God gelê. Hy het geweet dis in goeie hande – hy het vrede! Ek kan net dink watter krag hierdie getuienis gehad het toe die gemeente in Filippi sy brief ontvang en dit voorgelees word! “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
Ek ontvang nou die dag ʼn sms: ʼn prentjie van ʼn piepklein muis op die voorgrond met sy reuse-skaduwee wat van agter oor hom toring en hierdie woorde: “Worries gee klein dingetjies groot skaduwees!” Bekommernis laat die kleinste probleem reusagtig lyk. Hoeveel tyd mors ons tog nie omdat ons, ons bekommer oor dinge wat dalk kan gebeur nie! Rofweg vertaal lui die ou Engelse spreekwoord: Bekommernis is soos ʼn ou man met ʼn rug wat hom teister; want hy dink die vrag vere wat hy dra, is gemaak van yster! Hiermee sê ek nie dat daar nie gewigtige dinge in jou lewe is nie, maar dat ons menigmaal deur ʼn lang getob van ons probleme monsters maak.
God wil hê dat sy kinders volkome vrede moet ervaar. Hy nooi ons uit om ons probleme en ons laste na Hom te bring. Wat jou ook al vandag pla, plaas dit in God se hande en los dit daar.
Gebed: Here, ek is doodmoeg van bekommernis. Ek wil my probleme vandag in u hande sit en U daarmee vertrou. Amen
Spreekwoord in Engels: “Worry is an old man with a bent head, carrying a load of feathers he think is lead”