Jy is ʼn heilige! - 1 November 2013
Riélle Heine
“Wees heilig, want Ek is heilig.” Levitikus 11:44
Die eerste November is “All Saints day” in sekere kerklike tradisies. Reeds in die jaar 835 nC is 1 November deur die kerke as ʼn kerklike vakansiedag uitgeroep om die heiliges te onthou en te eer. Op die dag word daar gedink aan hierdie vroue en manne – uit alle hoeke van die samelewing – wat uitstaande voorbeelde van geloof was. Die nagedagtenis aan byvoorbeeld iemand soos Moeder Teresa en die liefdesvoorbeeld wat sy in die agterstrate van Kalkutta gestel het, inspireer oor jare en afstand!
In die ware Bybelse sin is alle gelowiges eintlik heiliges. Dit beteken nie dat gelowiges sonder sonde, of beter as ander, is nie. Maar gelowiges is heilig omdat hulle in ʼn verhouding met God staan en deur die inwoning van sy Gees al meer soos Hy word. In Levitikus 11:44 lees ons dat God dit as ʼn opdrag vir sy volk gee [nie net ʼn uitgesonderde groepie onder die volk nie]: “Wees heilig want Ek is heilig”. Om heilig te wees, dit wil sê, heiligmaking, is dus ʼn opdrag van God aan elkeen van sy kinders. Hy vra ons om meer en meer soos Hy te word; om so naby aan Hom te leef dat ons ʼn heilige weerkaatsing van Hom in die wêreld sal wees – ʼn weerkaatsing van sy liefde, sy hoop en sy vrede. Om ʼn heilige te wees, is om ʼn suiwer kanaal van die Allerheiligste te wees. Om Hom toe te laat om sy lig deur ons op hierdie wêreld te laat val.
Mag hierdie eerste dag van November ons aanmoedig om te volhard op die pad van heiligmaking sodat ons luidkeels kan inval by die ou-ou liedjie:
“We are traveling in the footsteps
Of those who've gone before
But we'll all be reunited
On a new and sunlit shore
Oh when the saints go marching in
When the saints go marching in
Oh lord I want to be in that number
When the saints go marching in!”
Gebed: Here, laat my vandag naby aan U leef. So naby aan U dat u heilige teenwoordigheid al my woorde en alles wat ek vandag doen, sal beïnvloed. Amen