Vers n dag - 16 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 11: STEL JY GOD EERSTE ... WANNEER DIT BY VERGIFNIS KOM (DEEL 3)
Deur: Benescke Janse van Rensburg
[Na nóg ’n string e-posse van lesers gister, het ek besef dat ’n deel 3 oor vergifnis noodsaaklik is. Ek sluit dus vandag hierdie sub-reeks oor vergifnis af met vier uittreksels uit lesers se eposse – en ’n kort antwoord by elkeen ... ]
LESER 1: “My man was ’n jaar gelede ontrou aan my. Ons was vyf maande lank uitmekaar waarin hy saam met die ander vrou was voordat hy vol berou teruggekom het en alles in die stryd gewerp het om ons huwelik te red. Hoewel ek hom vergewe het, besef ek nou dat die duiwel soos ’n brullende leeu rondloop en my op tye herinner aan die tye waarin my man en die ander vrou saam was. Dan baklei ons van voor af. Ek het al baie hieroor gebid en God gevra om my te help. Wanneer gaan Jesus my seer gesond maak?â€
ANTWOORD 1: Geen hartseer verdwyn oornag nie. In die meeste gevalle moet ons aanvanklik keer op keer kies om te vergewe as negatiewe gedagtes die oorhand wil kry. In Romeine 12:2 beklemtoon Paulus dat ons daagliks ons gedagtes moet vernuwe. Dit beteken dat ons verkeerde gedagtes wat nie van God af kom nie, moet vasvat en dit met ’n belofte van God moet vervang. Herken dus die aanval van die bose en staan dit teë deur elke oggend opnuut die wapenrusting van God (Efesiërs 6) aan te trek en Hom te vra om jou gedagtes te beskerm.
LESER 2: “Ek moet iemand vergewe, maar kry myself net nie sover om dit te doen nie. ’n Spesifieke familielid beïnvloed my en my man geweldig negatief en hy bring behoorlik net die slegste in my uit. Ek bid elke dag en vra dat God my hart sal sag maak om hom te vergewe, maar soms voel dit of dit nie wil gebeur nie. Hoe kan ek die situasie hanteer?â€
ANTWOORD 2: In Romeine 12:20-21 lees ons: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.†Begin doelbewus om vir daardie familielid se siel te bid, maar ook dat God jou gesindheid teenoor hom sal verander. Onthou, deur die kwaad met die goeie te oorwin, sal jy vind dat God nie net ingryp nie, maar dat Hy keer op keer alles ten goede sal laat meewerk. Vertrou Hom daarmee.
LESER 3: “Wat van God se vergifnis teenoor ons? Soms voel dit vir my asof God sy gesig wegdraai, my verlaat en nie my gebede beantwoord nie! Ek weet ek moet aanvaar dat ek ten volle vergewe is vir my sondes van die verlede, maar somtyds pla dit my – veral as dit weer en weer deur my gedagtes speel. Is ek werklik vergewe?â€
ANTWOORD 3: Wanneer ons met ’n eerlike en opregte hart ons sondes voor God bely, vergewe Hy ons nie net nie, Hy dink ook nie meer daaroor nie. Luister weer na sy belofte in 1 Johannes 1:9: “Maar as ons, ons sondes bely - Hy (God) is getrou en regverdig. Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.†Ook in Jesaja 44:22: “Ek (God) het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.†Die vyand wil jou altyd aan die verlede herinner. Wanneer dit weer gebeur, kies om hom te weerstaan en deur hom weer aan hierdie beloftes van God te herinner.
LESER 4: “My pa het my gemolesteer vandat ek drie jaar oud was. My ma het al die jare daarvan geweet, maar dit geïgnoreer. In die hoërskool kon ek dit nie meer hanteer nie en het van die huis af weggeloop. Ses van ons nege kinders is dogters en ons almal het hierdie marteling deurgemaak. In ’n stadium het ek my pa soveel gehaat dat ek hom wou doodskiet. Ek sukkel steeds om naby aan hom te kom en ek ril as ek met hom gesels. Hoe vergewe ek hom as ek so voel?â€
ANTWOORD 4: My hart gaan werklik uit na jou. Ek kan jou verseker dat God van jou seer weet en ook van jou uitdaging om jou pa te vergewe. Tog wil Hy jou beskerm teen die skade wat jou onvergewensgesindheid aan jou lewe aanrig. Hy het daarom sy Heilige Gees gegee om jou in die proses te lei. Begin bid dat God jou hart teenoor jou pa sal versag. In Esegiël 36:26-27 lees ons dat God ’n hart van klip na ’n hart van vleis kan verander. Ek stel voordat dat jy ’n pastorale berader gaan sien en by ’n kerk en selgroep inskakel. Medegelowiges dra ’n mens op die genesingspad. En wanneer jy swak voel, kan jy weet jy is nie alleen nie. God is reg langs jou om jou deur te dra!
Vader God, al kom vergifnis nie altyd maklik nie, is ek dankbaar dat U my sal bystaan om deur elke uitdaging te werk. Help my asseblief om nie my hart te verhard nie, maar om te vertrou dat U my elke dag sal deurdra. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag dagstukkie te adverteer, kontak gerus