DANKBAAR VIR DIE OOMBLIKKE VAN ONGEMAK - 15 Mei 2014
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Paar weke gelede was dit weer bloedig warm in die Kaap. Toe ek sien dat dit rondom 16:00 steeds diep in die 30 grade Celsius is, het ek besluit om my dogtertjie van 14-maande, Joalé, wie lief is vir swem, na ’n nabygeleë swembad te neem.
Alles het volgens plan verloop – net tot ons sowat 2km van die swembad af was. Meteens was die ongemak van die karstoeltjie en hitte een te veel vir Joalé. Sy het hartverskeurend begin huil en geen trooswoorde of beloftes dat iets wonderlik op pad is wou die trane keer nie. In ’n stadium het ek, deur die kerm en kla deur, het ek gewonder of ek nie liewer moes terugdraai huis toe nie.
Toe Joalé die swembad sien het ’n breë glimlag die plek van die trane ingeneem. Meteens het alles sin gemaak en was die tydelike ongemak in die motor selfs die moeite werd aangesien sy baie bly was oor ons eindpunt.
Dáár, langs die swembad, het ek besef dat ons baie keer presies dieselfde in ons geloofslewe doen. Ons beleef ’n tydelike seisoen van ongemak en in stede daarvan om te vertrou dat God steeds in beheer is en dat Hy agter die skerms besig is om alles in plek te stel vir ons deurbraak, begin ons kerm en kla.
Die Israeliete het dit in die woestyn ook gedoen. God was op pad om hulle na die Beloofde Land te lei, maar hulle was ontevrede oor die tydelike ongerief. Hulle het gekla en gemurmureer. Dít en ’n gebrek aan geloof in God het hulle perspektief só versuur dat een hele generasie nooit die beloofde land ingegaan het nie.
In Psalm 30:12-13 skryf die Psalmdigter: “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek. Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof!”
Die grootste versoeking in die ongemaklike seisoene in ons lewens is om God te begin bevraagteken. Só word dit makliker om te kerm en te kla. Die waarheid is egter dat Hy vir ons elkeen planne van voorspoed en nie teëspoed het. Hy ken die eindbestemming en daarom het hy reeds vir ons feesklere uitgesit om die rouklere te vervang. Kom ons sing tot sy eer terwyl ons Hom dank vir die ongemaklike seisoene in ons lewens. Die swembad en beloofde land is dalk net om die draai. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U in beheer van my lewe is. Help my om nie mismoedig en negatief te raak as ek ’n tydelike ongemaklike seisoen beleef nie, maar om eerder dankbaar te bly met die wete dat U my toekoms ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Maandtema: Lééf weer dankbaar. Is jy vandag dankbaar dat jy iemand volkome kon vergewe – of dat God jou van iets vergewe het? Deel gerus jou gedagtes met ons by