DANKBAAR VIR VREDE - 20 Mei 2014
Deur Benescke Janse van Rensburg
In September 2008 het Orkaan Ike binne dertien dae deur Kuba, Haïti, die Dominikaanse Republiek en Amerika getrek. Die dodetal het op 195 gestaan en die skade is op $10 biljoen (sowat R100 biljoen) bereken. Van die gemeenskappe langs die kus in Texas is heeltemal deur die stormwinde en kragtige water uitgewis.
Die skade wat aangerig is, was skokkend. Twee van die foto’s hiervan het egter my aandag getrek. Een is van ’n kuslyn in Gilchrist, Texas. Al die huise langs die kuslyn is platgevee buiten een. Die huis staan vreemd regop asof die wind en water beveel is om reg rondom die huis te beweeg, maar dit nie aan te raak nie. En in Winnie, Texas het die vloedwater tot by ’n plaashuis opgestoot, maar die huis staan onaangeraak.
In ons lewens ervaar ons ook soms storms – in ons huwelike, gesinne, finansies, gesondheid of in die werkplek. Te midde van hierdie dreigende of woedende storms kan dit voel asof die storms ons gaan verswelg. Die dissipels het dit ook eens ervaar. Op ’n skuit in die middel van ’n woedende storm was hulle oortuig dat hulle sou sterf. In paniek het hulle vir Jesus, wat deur alles geslaap het, wakker gemaak. Hy het kalm opgestaan en met een woord die storm stilgemaak. In ’n oogwink het vrede hulle stormagtige situasie betree.
God kan vandag nog dieselfde vir ons ook doen. Hy kan ons met vrede kom vul te midde van ’n dreigende of woedende storm – en hierdie vrede is ons krag. In Jesaja 43:1-3 sê Hy: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie . . . want Ek is die Here jou God. . .” En in Filippense 4:6-7 staan geskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Die beste manier om perspektief in stormagtige situasies te behou, is om ons oë na God te draai en te onthou wie Hy is en wat Hy kan doen. So stroom vrede terug in ons harte met die wete dat Hy in beheer is. Só hou hy jou staande soos die huise tydens orkaan Ike al word alles rondom jou platgevee. Kom ons maak dus vrede ons doelwit en wees in elke situasie dankbaar. God het ons immers elkeen op die naam geroep en ons behoort aan Hom. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir U beskerming in elke situasie waarin ek myself mag bevind. Help my om vrede my doelwit te maak omdat ek weet dat U in beheer is van my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk na die twee foto’s van Orkaan Ike hier: http://benescke.co.za/blog/2014/05/19/dag-12-dankbaar-vir-vrede/
Maandtema: Lééf weer dankbaar. Is jy vandag dankbaar dat jy iemand volkome kon vergewe – of dat God jou van iets vergewe het? Deel gerus jou gedagtes met ons by