Dankbaar vir gebed - 22 Mei 2014
Deur Benescke Janse van Rensburg
“Vir wat moet ons bid oor ’n saak as God klaar weet wat ons benodig?” vra iemand ’n tydjie gelede vir my. My vraag aan jou vandag: “Wanneer laas het jy met God oor jou uitdagings gesels en Hom spesifiek vir deurbrake gevra?”
Ons het ’n elektroniese klavier by die huis. My 14-maande oue dogtertjie, Joalé hou baie van musiek en sodra ek aankondig dat ons klavier gaan speel, hardloop sy gewoonlik vooruit na die klavier. Daar staan sy op die punte van haar tone in die hoop dat sy van die note sal raakdruk. Die probleem is egter dat as die klavier nie by die kragpunt ingeprop is nie, daar geen klank is nie. Dít veroorsaak dat sy dan met vraende oë na my kyk asof om te vra: “Nou waar is die klank dan, Mamma?”
God is ons Kragbron en wanneer ons bid demonstreer Hy sy krag aan ons. Hoewel ons in Psalm 139:4 lees: “Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees,” lees ons ook in Jakobus 4:2b: “. . . julle het nie, omdat julle nie bid nie.” Al weet God dus van ons uitdagings in die huwelik, finansiële verknorsing, stryd teen ons gewig of met ’n verslawing of van ons slegte verhouding met familielede, wil Hy graag hê dat ons dit met Hom moet bespreek.
Gebed verander ons perspektief op ’n saak. Nie net help dit ons om nederig en afhanklik van God te bly nie, dit help ons ook om weg te kyk van die uitdaging, die klavier aan te skakel en God te nooi om ons lewens met wêreldklas simfonieë te kom vul waar ons droë, stiltye ervaar.
Hoe weet ons dat gebed werk? In Mattheus 7:7 sê Jesus: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word . . .” In 1 Tessalonisense 5:17 lees ons: “Bid gedurig.” En in Markus 11:24 sê Jesus: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”
Wanneer laas het jy met God gesels – nie net die vyf minute in die oggend of aand nie, maar regdeur die dag? Maak jy ook tye om te luister as Hy deur sy Heilige Gees met jou terugpraat? En raadpleeg jy Hom voordat jy besluite neem of lig jy Hom bloot daaroor in? Onthou, God sluimer en slaap nooit nie. Hy het wêreldklas simfonieë gereed. Prop in by ons Kragbron en jy mag dalk verstom staan oor wat Hy in jou lewe kan en wil doen. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek met U kan praat. Help my om weg te kyk van my uitdagings en my oë op U te plaas met die wete dat U reeds weet wat ek benodig. Help my asseblief vandag met (noem jou uitdaging) en versterk my geloof in die wete dat U vir my op die regte tyd en manier sal deurkom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Maandtema: Lééf weer dankbaar. Is jy vandag dankbaar dat jy iemand volkome kon vergewe – of dat God jou van iets vergewe het? Deel gerus jou gedagtes met ons by