Dankbaar vir wysheid en leiding - 26 Mei 2014
Deur Benescke Janse van Rensburg
Moet jy vandag belangrike besluite neem? Moet jy byvoorbeeld besluit of jy gaan trek of bly, van werk gaan verander of nie, gaan trou of nie, met ’n gesin begin of eerder wag, ’n groot belegging maak of liewer verby hou? Of moet jy dalk besluit hoe jy teenoor jou jou rebelse tiener gaan optree, wat jy gaan doen om jou gebroke huwelik te herstel of hoe jy jou leefstyl gaan aanpas om gesonder te leef?
Hoe neem jy hierdie besluite? Vra jy vir God vir raad en leiding en vertrou die vrede of onvrede wat die Heilige Gees jou in die besluit gee of lig jy Hom bloot in van jou besluit nadat jy dit self geneem het?
Hoe weet ons ons kan God vir wysheid vra? In Jakobus 1:5 staan geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Het jy vrymoedigheid om God te vra om jou te lei?
Hoe weet ons dat God werklik met ons praat? In Jesaja 30:21: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” Die Heilige Gees is heeldag tot ons beskikking om ons te lei. Hy doen dit meestal met vrede of onvrede in ons gemoed. Is jy ingestel om te luister as hy praat?
Wat is die waarde om God in jou besluite te ken? In Spreuke 3:5-6 staan geskryf: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Ook in Mattheus6:34: “... soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
God ken die toekoms. Hy kan ons dus met wysheid verby die potensiële slaggate op ons roete lei. Gaan jy in dankbaarheid hiervoor vir Hom vra en vertrou om jou te lei? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek U vir wysheid en leiding kan vra omdat ek weet dat U my toekoms ken. Help my asseblief vandag met noem spesifiek) en laat U vrede my kompas wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Maandtema: Lééf weer dankbaar. Is jy vandag dankbaar dat jy iemand volkome kon vergewe – of dat God jou van iets vergewe het? Deel gerus jou gedagtes met ons by