Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jou huis....'n tuiste - 2 Junie 2014

Carina Francke

Teksvers: 1Konings 8:12:"Toe het Salomo gesê: Die Here het gesê dat hy in donkerheid wil woon."

'n Huissoekery het baie uitdagings, maar die een met die  mooi, goed beplande tuin vang dadelik jou oog. Dit is soos 'n oase  vir 'n dorstige in die woestynland van verwaarloosde, onversorgde huise. Jou voete vind maklik die tuinpaadjie tot by die mooi voordeur. Uiteindelik iets wat die moeite werd is! Geen stukkende geute, gebarste stoepteëls of afdopverf nie. Dis 'n huis wat roep: Kom bly in my!

Vol verwagting stap jy by die voordeur in....net om tot terug in die straat te deins oor wat daar binne aangaan.

Gelukkig is dié manier van huissoek nie dié van ons Hemelse Vader nie. Hy begin in die eerste plek agterstevoor - Hy loer eers na die binnekant, en as dit donker is, is dít vir Hom die definitiewe: "Hier wil Ek bly!" Donker en vuil skrik Hom nie af nie, dit is júís waarna  Hy op soek is - na mense wat verward en verdwaald in die donker rondstrompel.

Jy sien, Hy ís die Lig - dié Lig wat, wanneer Hy sy intrek in 'n lewe neem, die donker verdryf en oorweldig; wat lewe in die plek van dood bring en wat  Sy mens-huise verander in lighuise wat hoog brand en ver skyn. Hy sê immers Self: "Julle is die lig van die wêreld..." (Matt 5:14) en verder: "Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar die lig van die lewe hê."( Joh 8:12)

En dit is die geheim: om Hom te volg, omdat ons slegs in die lig van Sy lig, lighuise kan word van wie Hy sê: "Hier is My huis, hier is Ek tuis; My mense het vir My 'n tuiste geword."  Dit is ook slegs in Sy lig dat ons kan sien en onderskei wat óns aandeel is in die "tuiste maak" vir Hom. Ons totale menswees is hierby betrokke  - ons gees, siel, liggaam en verstand.

Maar dit is uiteindelik ook net in Sy lig dat ek vir my huisgesin en my naaste 'n tuiste in my hart en deur my lewe kan skep.

Gebed: Hemelse Vader, wat 'n ontsagwekkende gedagte dat U in my donkerte kom woon het om die lig in my lewe aan te skakel. Ek wil meer as 'n huis wees; ek wil 'n tuiste wees vir U en vir elke mens met wie ek paaie kruis. Help my onthou dat dit net moontlik is as ek U elke oomblik van my dag as Lig van my lewe erken.

Previous article: Jou huis...'n tuiste onder vernuwing - 3 Junie 2014 Prev Next article: DANKBAAR DAT ONS LEEF! - 30 Mei 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.