Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Net Konneksie? Nee, Verhouding! - 20 Junie 2014

Carina Francke

Skrifgedeelte: Jer 2:2:"Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van die bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in 'n onbesaaide land."

'n Vriendskap begin met konneksie en ontwikkel mettertyd tot 'n verhouding. En tog is daar talle Christene wat na hul bekering net op konneksievlak met Jesus Christus bly en nie erns meen om in 'n groeiende verhouding met Hom te staan nie.

Georg Thieme is van mening dat Christenskap nie 'n godsdiens is nie, maar 'n verhouding. 'n Verhouding met God ( en enige ander verhouding)  vra jou gewilligheidom jouself  tot 'n  verhouding te verbind en om tyd  daarin te investeer sodat jy Hom beter kan  leer ken.

Uit ons Skrifgedeelte is dit ook duidelik dat 'n verhouding "geneentheid" of  toewyding vra (Jer 2:2) - daardie soort toewyding  wat nie verflou of faal nie, maar wat, ongeag die lewe wat gebeur, steeds toegewyd bly aan die persoon met wie jy in verhouding staan.

En dit is presies wat God aan Israel (en ook aan jou en my) wil sê as Hy die beeld van 'n jong getroude paartjie gebruik om Sy volk Israel se intieme en afhanklike liefdesverhouding met Hom te beskryf. Sy toewyding aan ons is ewig, onfeilbaar. En so was Sy volk s'n ook - aanvanklik.  Hulle het Hom onverskrokke gevolg in 'n woestyn waar niks geplant word nie, waar water skaars is en die son fel brand. Hulle volg Hom want  Hy is God.  Hulle het Hom liefgehad, geweet Hy sal in elke behoefte voorsien en dat Hy hulle nooit aan hulle eie lot sal oorlaat nie......want Hy is God. Hulle het geweet dat van Sy kant, Hy nooit sy verbondsverhouding met hulle tot niet sal maak nie ...want Hy is God!

Wat 'n onbeskryflike voorreg dat 'n mens in verhouding kan staan met die Skepper van alles, die God wat jou nooit faal nie, die Een wat 'n vriendskap tussen Hom en mens inisieer het! "

Sommer net 'n draaibal na jou kant toe: Kan jy nog die tyd van absolute afhanklikheid en vertroue in God onthou kort nadat jy  jou hart vir die Hom gegee het? Is jy steeds in 'n lewende, aktiewe verhouding met Hom of het jy gaan stilstaan by konneksie  - daardie eerste ontmoeting waar jy geweet het jy het iets in gemeen met Hom? 

Gebed: Here, ek wil U hart ken; ek wil U agternaloop op die paaie wat U vir my uittrap. Gee my die insig,'n fyn aanvoeling en die volhardende wil om U in u volle wese te leer ken.  Amen.

Previous article: Jou verhoudinge: Wees getrou - 23 Junie 2014 Prev Next article: Konneksie in Omgee - 19 Junie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.