Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Swaarkry het sy voordele - 17 Oktober 2014

Carina Francke

Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek 'n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.  Filippense 1:12-14 (1983-vertaling)

Ons hoor toenemend van Christene wat weens hulle geloof vervolg word. Hulle word in tronke gegooi, ontneem van hul huise en besittings, en moet vlug vir hulle lewens. Sommige betaal die hoogste prys – hulle word om die lewe gebring, soms op die wreedaardiste maniere. In ons eie mooi Suid-Afrika het vervolging nog nie sulke afmetings aangeneem nie, maar daar gaan toenemend stemme op teen die beoefening van Christelike godsdiens in staatsinstellings.

Paulus het die volgende hieroor te sê: "God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar  ook deur vir Hom te ly" (Filippense 1:29). Lyding in jou alledaagse lewe en lyding ter wille van Christus en jou geloof, word ook deur Jesus tydens die Bergpredikasie aangespreek.

Hy stel dit baie duidelik dat daar vervolging sal wees omdat jy in geregtigheid wil leef en wil doen wat reg en eerbaar is. Eietydse voorbeelde: daar is slegte gevolge vir mense wat weier om omkoopgeld te betaal ten einde 'n besigheidstransaksie te beklink – hulle word eenvoudig gemarginaliseer en kan nie 'n inkomste genereer nie; 'n sogenaamde fluitjieblaser word geviktimiseer, geëtiketteer of moet gedurig oor sy skouer loer.

Jesus sê egter van mense wat reg wil doen, dat hulle "geseënd" is en bemoedig hulle met 'n belofte: "... want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele."

Hy waarsku ook dat gelowiges om sy ontwil beledig en vervolg, en van alles wat vals en sleg is, beskuldig sal word. (Matteus 5:11,12) So is Jesus byvoorbeeld as 'n vraat en  wynsuiper uitgekryt en Johannes die Doper in die tronk gegooi omdat hy Herodus teregwys oor sy broer se vrou wat hy vir homself ingepalm het. In ons dag word gelowiges wat geheelonthouers is, wat weier om deel te hê aan aktiwiteite wat die beeld van God in hulle kan skaad, of wat getuig oor die goedheid van die Vader, dikwels uitgekryt as skynheiliges of dwepers.

Maar dan volg Jesus se bemoediging en belofte: "Geseënd is julle ... Wees bly en jubel omdat julle beloning groot is in die hemele" (Matteus 5:11a,12).

Paulus sluit aan by Jesus: "Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die  onsigbare ewig" (2 Korintiërs 4:17-18).

Gebed: Vader, laat my nooit kompromieë aangaan omdat ek bang is vir mense-reaksie nie. Herinner my voortdurend daaraan dat U by my is te midde van vervolging, beledigings, vals gerugte en beskuldigings, en dat u teenwoordigheid ook aan die einde daarvan, my grootste beloning sal wees. Amen.

Previous article: Vrede met God in swaarkry - 20 Oktober 2014 Prev Next article: Vra Raad - 16 Oktober 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.