Hy hou van jou (1) - 11 November 2014
Danny Fourie
“Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Lukas 19:5
Iemand vertel hoe sy oom jare gelede hom altyd vir 'n goeie skoolrapport beloon het. Vir 60 persent het hy vyf rand gekry, vir 70 persent tien rand en vir 80 persent vyftien rand. Hy was gelukkig om altyd 80 persent te kry. Maar een keer kon hy dit nie haal nie. Hy het gedink, nou ja, daar gaan my vyftien rand. Maar sy oom het gesê: “Omdat jy moet weet dat jy ook van waarde is sonder dat jy 80 persent gekry het, gee ek tog vir jou die vyftien rand.”
Hierdie insident vertel hoe God oor ons voel. Wie ons ook al is, hoe ons presteer of nie presteer nie, voor God het ons altyd waarde.
'n Mens hoor van ouers wat erg negatief op hulle kinders se minder goeie rapporte reageer. “Jy sal ook nêrens kom nie! Kan jy niks goeds doen nie?” Ongelukkig merk 'n mens soortgelyke negatiewe uitsprake ook tussen ouers en paartjies op. Wanneer mense met sulke negatiewe kommentaar gebombardeer word, sal hulle naderhand wel dink dat hulle vir niks goed is nie. Ontvangers van sulke kritiek beleef dit as dat hulle afgeskryf en verwerp word. Dit bring pyn.
Sulke ervarings kan jou lewe by jou bly en bydra dat jy dinge van jouself glo wat glad nie waar is nie – dat jy min werd is.
Saggeus het ook gedink hy is min werd. Hy skuil in 'n boom agter die blare. Maar Jesus dui aan dat Hy Saggeus nodig het. Miskien kan jy dit ook nie glo nie, maar Jesus het jou nodig.
Ook jy het gawes en talente ontvang. Gebruik dit. Dit sal jou gevoel van eiewaarde goed doen. Iemand het gesê dat as jy jou gawes en talente nie gebruik nie, lyk dit soos iemand wat geld oppot. Daarmee doen jy jouself én ander tekort.
Gebed: Dankie Here dat U ook my nodig het, dink dat ook ek die moeite werd is. Help my om dit elke dag te glo. Amen