Hy roep jou (1) - 13 November 2014
Danny Fourie
Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te kan sien … Lukas 19:4
Ons het al oor die tollenaar Saggeus gepraat. Hy wou graag vir Jesus sien en klim toe in 'n boom langs die roete wat Jesus sou volg. Jesus, so blyk dit uit Matteus 21:31-32, was blykbaar op goeie voet met die tollenaars en prostitute. Seker daarom dat ook Saggeus graag vir Jesus in lewende lywe wou sien.
Saggeus was miskien bloot nuuskierig. Ek dink nie daar was veel van 'n dieper geestelike behoefte by hom nie. Wat wel waar is, is dat toe hy daar vanuit die boom waar hy gesit het vir Jesus sien, het hy 'n totale nuwe lewe gevind. Was hy op soek na Jesus? Ek dink nie so nie. Eintlik het hy ander motiewe gehad wat nie vir ons duidelik uitgespel word nie. Maar in die proses het hy Jesus gevind.
En die rede waarom hy Jesus gevind het, is omdat Jesus hom gesoek het. Toe Jesus in die groep onder die boom verby beweeg waarin Saggeus gesit het, het Saggeus nie na Jesus geroep om sy aandag te trek nie. Nee, want dit was ook nie die rede waarom Saggeus in die boom gesit het nie. Hy wou Jesus sien, maar eintlik wou hy nie te naby aan Jesus kom nie.
Jesus besluit egter om na Saggeus te roep. Opmerklik dat Jesus hom op sy naam noem. Ons is nie maar net gesigte in 'n skare nie. Vir Jesus is ons mense wat Hy by die naam ken. Hy wil deel van ons persoonlike lewe wees. Vandag nog. “Saggeus, ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Saggeus ek staan voor die deur van jou hart, maak die deur van jou hart vandag vir my oop.
Gebed: Dankie Here Jesus dat U my opsoek, dat U na my roep. Help my om U ook vandag deel van my lewe te maak. Amen