Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Oordink die Bybel - 25 November 2014

Danny Fourie

Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.   Matteus 7:24

Die psalmdigter skryf dat dit goed gaan met mense wat hulle vreugde in die Woord van die Here vind, dit dag en nag oordink (Psalm 1:1). Dit is onbevredigend om die Bybel net te lees en nie te oordink nie.

Om te oordink is om te lees en jou af te vra: Wat beteken dit vir my lewe? Wat wil God vir my deur hierdie gedeelte sê? Is hier ’n belofte wat ek vir my kan neem? Is hier ’n sonde wat ek moet bely? Is hier ’n waarskuwing wat ek in die praktyk kan gebruik? Wanneer ’n mens die Bybel só lees, is dit nie ’n maklike oefening nie! Hierdie manier van Bybellees het iets van ’n worsteling, ’n gestoei met die teks om die regte betekenis vir jou lewe te ontdek.

Dit is byna soos Jakob wat met die Here gestoei het en uiteindelik gesê het: “Ek sal jou net los as jy my seën” (Genesis 32:26). Lees totdat die betekenis duidelik is. Daniël was ’n staatsamptenaar met baie verantwoordelikhede en ’n besige program. Hy het hom drie keer op ’n dag afgesonder om tyd met die Here deur te bring, want hy het besef dit is belangrik vir sy verhouding met die Here (Daniël 6). Drie keer per dag – nie drie minute per dag nie!

Oordink. Pas toe. Jesus het gesê dat die lewenshuis van iemand wat net na die Bybel luister sonder om te doen wat dit vra, ineen sal stort. Wanneer jy lees en toepas, hoor en doen, dan sal jou lewenshuis bly staan – al kom die vloedwaters en die rukwinde. Die fondament is op rots.

Gebed: Heilige Gees help my en lei my om die Bybel gereeld te lees en in my lewe toe te pas. Amen

Previous article: Hy luister wanneer jy bid - 26 November 2014 Prev Next article: Die Bybel – sy Woord - 24 November 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.