Hy help ons kies - 27 November 2014
Danny Fourie
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Matteus 22:37
Wanneer ’n mens voor ’n keuse staan, sal dit darem handig wees as die Here vir ’n mens duidelik kan sê wat om te doen. Iets soos ’n brief of ’n stem uit die hemel sou baie help. Dan weet ’n mens ten minste wat jy moet doen en waar jy aan of af is.
Dit is moeilik om goeie keuses te maak. Watter beroep moet ek kies? Is dit die regte man of vrou vir my? Die priester, die Leviet en die Samaritaan het elkeen voor die keuse gestaan of hulle die halfdood man langs die pad moet help. Net een het besluit om die man te help. Nadat die Here vir Naäman gesond gemaak het, bied hy vir Elisa geld aan. Elisa moes besluit of hy die geld wil neem of nie. Hy het nie. Potifar se vrou het vir Josef genooi vir ’n aandjie se plesier en hy moes ’n keuse maak. Hy het nee gesê.
Ons staan elke dag voor nuwe keuses. Wat is nou ’n goeie keuse om te maak? Die antwoord hierop is: Dit is die keuse wat gebaseer is op God se reëls vir ons.
In die eerste plek is daar ’n keuse wat alle ander keuses voorafgaan. Dit is die keuse vir of teen Jesus, want daarmee staan of val alle ander keuses. ’n Mens sal nooit volgens die reëls van God wil leef, as jy nie eers ’n keuse vir God gemaak het nie. Jy moet dus allereers besluit of jy vir God wil lewe of nie. Of jy Jesus wil volg of nie. Waarom sou jy Jesus wil volg as jy Hom nie ken nie?
Wanneer jy gekies het om Jesus te volg, sal die ander keuses van die lewe makliker wees.
Gebed: Here, help my om vir U te wil lewe. Help my om U by al my keuses te betrek en te doen wat vir U aanvaarbaar is. Amen