Die wyse manne aanbid Hom - 12 Desember 2014
Neville Turley
Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede! Miga 5:1
'n Mens kan maar net die dapperheid en deursettingsvermoë bewonder van die wyse manne (sterrekenners) wat uit die ooste gekom het om hulde aan die baba Jesus te betoon. Deur hulle studies het hulle sy ster gesien. Hierdie epiese reis was seker vol van al die gevare en ongemak wat 'n lang reis van daardie tyd inghou het, en tog was hulle vasbeslote om die ster te volg. Toe hulle in Jerusalem aangekom het, het hulle gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?" (Matteus 2:2)
Groot fout! Die vraag het koning Herodes hewig ontstel. Hy is nie as 'n koning van die Jode gebore nie. Hy is in 40 v.C. tot koning gekroon op grond van 'n bevel van die Romeinse Senaat, waar, volgens die Romeinse historikus, Flavius Josephus, korrupsie en afpersing aan die orde van die dag was.
Koning Herodes sou enige iets doen om sy troon te beskerm. Op die manier wat hy die wyse manne hanteer het, is dit ook duidelik dat hy 'n goeie diplomaat was. Kastig om hierdie sterrekenners te help om die Kindjie te vind het hy die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. Bethlehem, het hulle dadelik gesê en Miga 5:1 vir hom aangehaal.
Herodus het toe die sterrekykers na Betlehem gestuur met die bevel om noukeurig ondersoek te doen na die Kindjie en as hulle Hom kry, die koning dadelik te laat weet want hy wil ook aan Hom hulde gaan bewys.
Onderweg na Betlehem sien die wyse manne tot hulle groot blydskap weer die ster. Dit het gaan staan reg bo die plek waar Josef, Maria en baba Jesus was. Toe hulle die Kindjie sien, het hulle gekniel en aan Hom hulde bewys.
Hierdie Kersfees gaan miljoene mense dieselfde doen as wat hierdie wyse manne uit die ooste gedoen het. Kerke regoor die wêreld gaan volgepak wees om aan Christus, die Koning, hulde te bring. Indien jy een van dié miljoene gelowiges is, bid asseblief ook vir mede-Christene wat hulle in omstandighede bevind waar hulle Hom nie openlik kan aanbid nie.
Daar is ook gelowiges wat uit vrye keuse nie meer bande met die Kerk het nie. Ek bid dat ook hulle hierdie Kersfees sal onthou om neer te kniel om God te aanbid.
Dit is wat gelowiges doen.
Gebed: Almagtige God, skenk aan ons genade om U elke dag deur ons lewens te verheerlik. Ek bid dit in in die Naam van Jesus ons Verlosser. Amen