Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

DAG 1: Nader tot God... en Hy sal tot jou nader - 2 Februarie 2015

HUIDIGE TEMA: Nader tot God

Deur Benescke Janse van Rensburg

Aan die begin van 2015 het ek tydens my radioprogram die luisteraars gevra om hul Nuwejaarsvoorneme via ons SMS-lyn te deel. Die oorgrote meerderheid voorneme, buiten om gesonder te leef, was om God vanjaar beter te leer ken. Dit het my laat dink. Hoe doen ’n mens dit? Hoe groei jy nader aan God? Hoe beleef jy sy teenwoordigheid meer tasbaar in jou lewe? En hoe kan ons seker weet dat dit wel Hy is wat ons in belangrike besluite lei? Dít is die tema vir Februarie-maand.

Een van die skrifgedeeltes wat gelowiges gewoonlik ter bemoediging deel wanneer iemand sê dat hul God beter wil leer ken, is die woorde in Jakobus 4:8a: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” Dit is waar. Tog, wanneer laas het jy die tweede gedeelte van daardie teksvers gelees? “Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.” (Jakobus 4:8b).  

Die tweede gedeelte hou die sleutel in vir die eerste gedeelte van die teksvers. Hoekom? Omdat nie een van ons werklik nader aan God kan groei of sy stem duideliker in ons lewens kan ervaar as ons doelbewus aan sonde in ons lewens vashou nie. Hoekom? Omdat God heilig is en ’n strewe na heiligheid ons selfvertroue gee om in sy teenwoordigheid te staan.

Beteken dit dat ons perfek moet wees voordat ons na Hom toe kan gaan? Natuurlik nie. Ons almal het gesondig. Juis hierom het Jesus vir ons aan die kruis gesterf. Jou begeerte om meer heilig te word, is die beginpunt waar die Heilige Gees die blokkasie wat sonde in ons verhouding met God veroorsaak, wegneem sodat ons selfvertroue om in God se teenwoordigheid te staan herstel kan word.

Wat blok die vloei van die Heilige Gees in jou lewe? ’n Buite-egtelike verhouding, ’n duistere finansiële transaksie, ’n kort humeur, bekommernis, ’n voorliefde vir skinderpraatjies, bitterheid, ’n onvergewensgesindheid, ’n verslawing, ’n gebrek aan tydsbeplanning? Wanneer laas het jy hierdie ding (of dinge) in jou lewe na God geneem en Hom gevra om jou te help om daarvan vry te kom?

Onthou, God se begeerte vir ’n verhouding met ons elkeen is selfs sterker as wat ons begeerte ooit kan wees om Hom beter te leer ken. Dit is immers hoekom Hy ons elkeen geskape het. Kon ons nader tot Hom met die wete dat sy hand reeds na ons uitgesteek is. Al wat ons moet doen, is om dit te vat. Gaan jy? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek vandag met U kan praat. Ek wil U spesifiek vra om my te help met my (noem dit wat ’n blokkasie in jou verhouding met God is). Versterk my deur u Heilige Gees om te wegstap sodat ek U meer tasbaar in my lewe kan ervaar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Previous article: Dag 2: Nader tot God... stap vir stap - 3 Februarie 2015 Prev Next article: Op Hom vestig ek my hoop vir ewig - 30 Januarie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.