Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

DAG 7: Nader tot God deur sy Woord te lees (Deel 2) - 10 Februarie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Ná gister se gedeelte oor die krag van die Woord van God, was daar heelwat lesers met dieselfde vraag: “Ek wil die Bybel beter leer ken, maar ek weet nie waar om te begin nie. Help asseblief.”]

’n Paar jaar gelede het ek dieselfde begeerte gehad. Ek wou God beter leer ken, maar ek het dit moeilik gevind om die Bybel te verstaan. Iemand het vir my in ’n informele gesprek twee stappe gegee wat vir haar gewerk het. Ek het dit geïmplementeer en vir die eerste keer het ek beleef hoe die Bybel van ’n gewone boek in die lewende, kragtige Woord van God verander het (Hebreërs 4:12). Ek deel graag hierdie twee stappe vandag met jou.  

Stap 1: Nooi die Heilige Gees om jou te lei

Die skrywers van die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer. Wie beter kan dus die Woord van God  vandag vir ons oopbreek as juis die Heilige Gees? Wanneer jy gaan sit om die Woord van God te lees, raak eers stil en vra God om jou deur sy Heilige Gees te lei om te verstaan wat jy gaan lees. In Johannes 16:13 sê Jesus immers: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Stap 2: Ontdek God se karakter

God het die Bybel aan ons gegee om ons in die waarheid te onderrig, om dwaling te bestry en die regte lewenswyse te kweek, maar ook om Hom beter te leer ken. Ons ontdek God se karakter wanneer ons die Woord begin lees. In Deuteronomium 4:29 staan geskryf: “. . . en julle sal Hom kry as julle Hom soek met julle hele hart.” In stede daarvan om net die gedeelte voor jou te lees, byvoorbeeld die storie van Dawid en Goliat of Jona in die vis, begin vra jouself af wat die spesifieke gedeelte wat jy lees jou van God se karakter wys en begin skryf sy karaktereienskappe neer. Oordink dit en besef dat God nie verander nie en dat sy karaktereienskappe steeds vandag vir ons lewens geldig is.

Van Genesis tot Openbaring in die Bybel staan Jesus Christus sentraal. God het ná die sondeval in Genesis reeds beplan om Jesus aarde toe te stuur. Regdeur die Ou Testament berei Hy egter eers die mensdom voor om die klimaks van die skepping, naamlik die geboorte van sy Seun, Jesus Christus aan die begin van die Nuwe Testament te waardeer. Lees jy die Woord só, sal jy God se oneindige liefde en genade vir ons elkeen nuut ontdek.

Wil jy God beter leer ken? Kry dan vir jou ’n Bybelleesrooster (sien skakel onderaan) en vra die Heilige Gees om as jou Leidsman  en Leermeester op te tree. Begin soek ook vir God in elke gedeelte wat jy lees en voor jy jou oë uitvee, gaan jy dalk beleef hoe die Woord van God jou só boei dat dit moeilik is om dit neer te sit omdat jy (dalk vir die eerste keer) hoor dat God daaruit met jou praat. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u Woord. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om te verstaan wat ek lees en help my om U karakter nuut te ontdek wanneer ek begin lees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Voorbeelde van Bybelleesprogramme: http://www.bybel.co.za/E100/E100AFR-Bybelleesrooster.pdf

Vir enige bydraes of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Previous article: DAG 8: Nader tot God en spits jou ore vir sy stem - 11 Februarie 2015 Prev Next article: DAG 6: Nader tot God deur sy Woord te lees - 9 Februarie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.