Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

DAG 9: Nader tot God wanneer jy wysheid benodig - 12 Februarie 2015

Deur Benescke Janse Rensburg

Waarvoor benodig jy wysheid vandag? Vir die hantering van ’n krisis by die werk of ’n uitdaging in jou huwelik of met een van jou kinders? Wonder jy of jy jou eie besigheid moet begin, moet ophou werk om meer tyd saam met die kinders te spandeer en/of jy moet aansoek doen om ’n nuwe werk en of jy moet bly waar jy tans werk? Is die persoon met wie jy in ’n verhouding is jou huweliksmaat? Of wonder jy bloot hoe jy jou geliefde vir sy of haar verjaarsdag spesiaal kan laat voel? Het jy al met God oor hierdie sake gepraat?

Onthou, geen situasie is vir God te groot of te klein om jou daarin te lei nie. As iets vir jou belangrik is, is dit vir Hom belangrik. In Jakobus 1:5 staan immers geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ook in Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Hoe belangrik is geloof wanneer ek vir God vir wysheid vra?

Uiters belangrik. In Hebreërs 11:6 lees ons: “As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Wanneer jy vir God vir wysheid vra, moet jy vertrou dat Hy jou gaan lei. Word stil en luister wat Hy deur sy Heilige Gees sê. Skryf dit neer en bid dat God dit sal bevestig. Die vyand wil jou laat twyfel so bewaak jou gedagtes. In Jakobus 1:6-7 lees ons: “. . . ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ’n mens wat altyd aan die twyfel is . . . moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.”

Wat as ek gedink het dat ek reg gehoor het en nou besef dat jy verkeerd was?

Daar is genade vir elke seisoen in jou lewe en God ken jou hart. In Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet . . .” Geen situasie is ooit te hulpeloos dat God dit ten goede kan laat meewerk nie. Hy is immers ’n God van tweede kanse. Bly naby aan Hom en soek sy aangesig. Hy kan ’n slegte situasie in ’n regte situasie omdraai.

Hoe belangrik is raadgewers in die besluitnemingsproses?

In Spreuke 15:22 staan geskryf: “Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is” (Die Bybel vir Almal). Maak egter seker dat die mense met wie jy praat ’n verhouding met God het en dat hulle jou beste belange op die hart dra. God kan jou roete bevestig of verander deur die raad van goeie raadgewers. Kies hulle reg.

Onthou om dankbaar te bly. . .

In Filippense 4:6-7 lees ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” Wanneer ons God begin prys en dank vir ’n deurbraak wat op pad is, al ken ons nog nie die eindpunt nie, is dit ’n teken dat ons ons geloof en vertroue in Hom plaas.

Waarvoor benodig jy wysheid vandag? Kom ons nader tot God, vra Hom wat ons benodig en kom ons prys en dank Hom vir wat op pad is. Ons mag dalk net verstom staan oor die oop en toe deure langs die pad soos Hy ons beskerm en lei. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek elke situasie in my lewe aan U kan opdra. Ek vra U vandag spesifiek vir leiding (noem die area). Help my om die regte besluite te neem en weerhou my van verkeerde besluite. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.  

Het jy ’n getuienis van wat God in jou lewe gedoen het? Ook vir enige bydraes of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Previous article: DAG 10: God nader ook na ons - 13 Februarie 2015 Prev Next article: DAG 8: Nader tot God en spits jou ore vir sy stem - 11 Februarie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.