Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die dag van die Here: uitdaging vir vandag - 28 April 2015

Xanthe Hancox

Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag. Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe. Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.  1 Tessalonisense 5:1-2, 10-11

In die laaste deel van 1 Tessalonisense 4 en aan die begin van hoofstuk 5 word Jesus se wederkoms bespreek. Soos die geval is met baie van die profetiese Bybelgedeeltes is dit ook hier maklik om vasgevang te word in 'n poging om die datum of tyd van die einde van die wêreld te probeer bepaal. Ons het almal al van verskeie mense gelees of gehoor wat deur die eeue so seker was dat hulle die presiese tyd van die wederkoms weet.

Soos die geval met ander profetiese dele, is ook hierdie Skrifgedeelte prakties. Dit daag ons uit om vandag 'n goddelike lewe te lei. Met ander woorde die feit dat ons seker is van ons verlossing in Christus en van ons ewige tuiste mag nie veroorsaak dat ons onverskillig staan teenoor die tydelike wêreld waarin ons ons tans bevind nie.

Ons is geroep om altyd gereed te wees vir Jesus se wederkoms sonder dat ons weet wanneer dit gaan plaasvind.  Soos 'n krieketspeler wat in die glippe veldwerk doen, wil jy nie in die son kyk wanneer die kolwer die bal in jou rigting slaan nie. Jy wil ook nie omdat jy nie genoeg gekonsentreer het nie, in 'n ander veldwerker vashardloop nie. Jy wil jou oë op die bal hou, reg om te hardloop en te duik om die bal te vang. Jy wil ook reg wees om aandagtig te wag vir die bal om jou kant toe te kom. As Jesus vandag kom, is jy gereed?

Verder sê Paulus dat terwyl ons wag op Jesus se wederkoms, ons mekaar moet bemoedig en versterk. Ons almal raak van tyd tot tyd so besig met die dinge van hierdie wêreld.  Kom ons fokus opnuut op die wete dat Jesus weer sal kom en maak vandag tyd om iemand anders moed in te praat en te versterk.

Gebed: Here, help ons om gereed te wees vir die dag wanneer Jesus weer kom om die ganse Skepping te herstel. Help my om vandag gereed te wees; om te fokus op dit wat belangrik is, en om my broers en susters te bemoedig. Amen

Previous article: Wees bly, bid en wees dankbaar - 29 April 2015 Prev Next article: 'n Uitdaging om gebalanseerd te lewe - 24 April 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.