Dag 20: Vreesloos vorentoe met die leeu op hok - 29 Junie 2015
Deur Benescke Janse van Rensburg
Vroegoggend op Vrydag, 5 Junie vanjaar het ’n leeumannetjie van die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes ontsnap. Dit het vermoedelik uitgekom deur onderdeur die heining te klim nadat water ’n gat daar oopgespoel het. Aangesien die park deur privaatboere se plase omring word, het die landboukantoor in die distrik boere gevra om lig te loop en nie hul werksmense in die veld te laat werk totdat die leeu gevang is nie.
Kan jy vir jouself indink hoe die boere en werkers in daardie omgewing moet voel? Ek is seker hulle ore is heel dag – en veral snags – gespits vir enige geluid wat moontlik soos ’n leeu mag klink. Omdat niemand weet waar die leeu is nie, kan dit óf ver óf baie naby wees. Juis hierom is dit te verstane dat vrees konstant in heelwat mense in die omgewing se onderbewussyn heers. Ek meen, verbeel jou jy hang buitekant wasgoed op of braai saam met die gesin op die stoep en meteens is daar ’n oorverdowende brul reg langs jou – terwyl die leeu met sy slagtande na jou gluur!
Wanneer ons nalaat om ons vrese met God te bespreek, word dit soos hierdie vermiste leeu. Dit bly in ons onderbewussyn terwyl ons ore gespits is vir “daardie brul” – in ons huwelike, in die werkplek, in ons finansies of selfs ons gesondheid. Wat ons egter vergeet is dat wanneer ons konstant die ergste verwag en daaroor tob, dit soos die water word wat ’n gat onder die heining oopspoel vir die leeu om uit te kom om ons te kom teister. Waarop ons tob word na ons aangetrek. In Job 3:25 sê Job immers: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.”
God het geweet dat ons soms deur die leeus in ons eie lewens geteister kan word. Juis hierom het Hy by voorbaat aan ons toerusting gegee om hulle op hok te hou in ons lewens. In Hebreërs 4:12 lees ons: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante . . .” God se beloftes staan vas en Hy verander nooit nie. Dit is ook met sy Woord as ons swaard wat ons die vrese, twyfel en ongeloof in ons lewens afweer. Wanneer ons dus ’n leeu hoor brul in die vorm van vrees wat ons wil oorweldig, kan ons soos die Psalmdigter in Psalm 56:4-5 sê: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.”
Kom ons bring ons vrese vandag in geloof na God terwyl ons op sy Woord staan. Só pak ons klippe voor ons heinings wat sal verhoed dat die heining oopspoel vir die leeu om uit te kom om ons te kom teister. Kom ons beweeg vreesloos vorentoe met die wete dat God nie net die leeus op hok kan hou nie, maar total kan wegneem omdat Hy almagtig is. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek U plan vir ons is om vreesloos te leef. Help my om nie langer die vrese te laat “rondhardloop” soos die leeu wat ontsnap het, maar om dit in die gesig te staar en met U hulp te oorkom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na