Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jesus: die goeie herder - 11 Maart 2016

Louise Gevers

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.  Johannes 10:14-15

In hierdie vers is die intimiteit, die toegewydheid en die vertroue tussen die herder en die skape, tussen Vader en Seun, baie duidelik, asook die onselfsugtigheid van die herder wat bereid is om sy lewe af te lê vir die skape. Die herder is baie duidelik nie 'n huurling nie. Hy sal nie weg hardloop en toelaat dat die wolf sy skape vang nie, of 'n lammetjie wat in 'n stroom geval het, laat lê nie. Hy sal hulle red en vertroos want hulle behoort aan hom en hy gee om vir hulle. Hy doen nie hierdie werk net om geld te verdien nie, maar omdat hy sy skape liefhet.

In hierdie hoofstuk van Johannes word 'n baie teer prentjie geskilder van Jesus, die Messias, se verhouding met sy skape. Dit bou op die fondament van God wat die "Herder van Israel" is. Psalm 23:1 begin met "Die Here is my herder, ek kom niks kort nie." God het aan die leiers van Israel die verantwoordelikheid gegee om sy volk te versorg, maar lees in Jesaja hoe treurig hulle dit gedoen het: Dié wat oor my volk moet waak, is almal blind, hulle weet niks nie. … hulle lê net, hulle wil net slaap. … Hulle is herders sonder insig, hulle slaan elkeen sy eie koers in, elkeen is op sy eie voordeel uit. (Jesaja 56:10-11). As gevolg van hulle mislukkings het God sy Seun wat Hy kon vertrou gestuur om 'n reuse opdrag uit te voer. Hoe anders is Hy nie!

Die antieke Nabye Ooste se konsep van 'n herder verskil ietwat van die van die Weste en gee ons beter insig waarna Jesus verwys wanneer Hy Homself as die goeie herder beskryf. Die herder van die antieke Nabye Ooste het geweet om sy skape te lei en nie aan te jaag nie, en sy skape het net op sy opdragte gereageer want hulle het sy stem geken. Die volgende interessante verhaal is opgeteken in "Manners And Customs of Bible Lands" " 'n Herder in Libanon is gevra of hy elke aand sy skape tel. Hy het gesê nee, en is toe gevra hoe weet hy dat al die skape daar is. Sy antwoord was toe: "Meneer, as jy my oë toebind en enige skaap na my toe bring en my toelaat om my hande op die skaap se gesig te sit, sal ek onmiddellik weet of dit myne is of nie." Wat 'n wonderlike beeld is dit nie vir ons as Jesus se volgelinge.

Jesus sê in Johannes 10:27-28 "My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie." Watter wonderlike woorde van versekering vir diegene wat Jesus as die goeie Herder ken.

Ken jy Hom?

Gebed: Dierbare Vader, dankie dat U vir my omgee deur Jesus, die goeie Herder en dat U my opnuut verseker dat ek tot in ewigheid veilig in sy sorg is. Amen

Previous article: Jesus: die ingang vir die skape - 14 Maart 2016 Prev Next article: Jesus: Leermeester van die goue reël - 10 Maart 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.