Jesus: Man van smarte - 24 Maart 2016
Louise Gevers
Hy was verag en deur die mense verstoot, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Jesaja 53:3-6
… Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” … Ek voel doodsbenoud. Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Matteus 26:36-39
Kan ons Jesaja se profetiese woorde oor die Messias lees en nie geroer word deur sy beeld van die vreeslike lyding wat hierdie Man sou ondervind nie? Kan enigiemand hierdie woorde ernstig opneem sonder om die angs en lyding te ervaar wat hierdie Man moes verduur ter wille van mense, soos ons, wat deur ons eie wil soos skape dwaal? 'n Mens wil uit jou hart uitroep "Onregverdig!"?
Dit is moeilik vir ons om te verstaan hoekom Hy so baie moes ly, totdat ons kyk na die verdorwenheid van die wêreld om ons en besef dat al die boosheid "was op hom", oor "óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel". Die wêreld het 'n verlosser nodig gehad en net Een kon die prys betaal, Jesus die sondevrye Seun van God.
As die Christus het Hy gewillig gely, in gehoorsaamheid aan sy Vader se wil, vir die verlossing van die wêreld. Hy het baie in hierdie wêreld gely. Hy is deur die Fariseërs verwerp wat, ongeag sy kennis van die Skrif en die feit dat Hy die waarheid met reg en gesag gepraat het, sy revolusionêre interpretasie van die wet verag het. (Matteus 12:1-14) Hy was van Nasaret afkomstig, die plek waarvan Natanael gesê het: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” (Johannes 1:46) Hy is deur al die inwoners, sowel as deur sy eie broers en susters as 'n profeet verwerp (Lukas 4:29, Johannes 7:5). Hy is tot die dood verraai deur een in sy eie binnekring, en toe Hy gearresteer is, het al sy ander vriende uit vrees vir hulle lewens weggehardloop. Hy het 'n onwettige, onregverdige verhoor gehad en is erg geslaan. Daarna is Hy uitgelei om aan 'n wrede kruis te gaan sterf, omring deur die mense vir wie Hy sou sterf wat Hom spot en beledig. "Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie." (Jesaja 53:7)
Sal ons sulke verwerping, verraad en onregverdigheid kan hanteer? Hoe het Jesus dit gedoen?
Gebed en gehoorsaamheid aan God was prioriteit in Jesus se lewe en daardeur stel Hy ook vir ons die voorbeeld. Nadat Hy die Pasga maal, ryk aan simboliek, geëet het, het Jesus skuiling gesoek in die Tuin van Getsemane waar Hy sy hart teenoor sy Vader uitgestort het. In Hom het Hy krag gevind, en standvastigheid wat Hom deur sy lyding gedra het.
Indien ons die behoefte aan God in ons lewens erken, sal Hy ons ook help. Erken jy die behoefte aan Hom in jou lewe?
Gebed: Vader, ek het U nodig om my te help om gebed en gehoorsaamheid aan U die belangrikste prioriteit in my lewe te maak. Amen