Om met God te onderhandel - 1 April 2016
Hennie Symington
Op die tema van gebed in die Bybel. Wat sou die mens sonder gebed gewees het? Niks meer as ʼn redelose dier wat uitgelewer is aan eie instink nie. Maar die mens is anders: God het met hom gepraat en hy het geantwoord. Kom laat ons bid.
Abraham het gesê: “Ek is maar net stof en as, en tog het ek gewaag om met die Here te praat. … Sê nou die regverdiges is vyf minder as vyftig, sal U die hele stad verdelg. ... En die Here sê, “Ook oor tien sal ek dit nie verdelg nie. Genesis 18:27-32
Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom uit die plek van verwoesting. Genesis 19:29
Abraham se gebed in Genesis 18 is seker een van die mees gewaagde gebede in die Bybel. Dit word beskou as die eerste formele gebed wat in die Bybel opgeteken is. Meer nog, dit word ook beskou as die eerste voorbeeld van onderhandeling tussen God en ʼn mens. Abraham onderskei hom as ʼn meesterlike onderhandelaar en wys ons wat dit beteken om werklik om te gee vir sondaars en met hart en siel vir hulle in te tree in gebed.
Wat nog meer merkwaardig is, is dat God vir Abraham nooi om deel te wees van die onderhandeling. “… sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen?” (Vers 17). Maar waarom sou Abraham so begaan wees oor die lot van sondige mense wat as gevolg van hulle goddeloosheid vernietig sou word? Moontlik omdat hy ʼn familielid wat met sy gesin in Sodom woon, wou red. As hy wou kon hy mos maar met God onderhandel het om sy familie betyds uit die stad uit te red. Maar dis nie wat hy vir God vra nie: Hy smeek God om enige regverdiges wat daar in die stad mag wees, ʼn kans te gee. Hierdie is seker een van die mees intense gebede in die Bybel, en wat dit nog meer besonders maak is dat die leser opgeroep word as getuie van die onderhandeling tussen God en Abraham. Hieruit leer ons dat die gebed van die regverdige besondere gewig dra by God.
Baie eeue later sou daar weer ʼn onderhandeling om die siel van die mens plaasvind – die keer was dit Jesus wat instem om sy lewe te gee vir die redding van talle.
Gebed: Goddank vir die helde van die geloof wat die weg gebaan het vir sondaars om gered te word. Amen