Gebed om vergifnis - 8 April 2016
Hennie Symington
Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Psalm 51:4, 9 (1933/1953-vertaling)
Dawid se gebed om vergifnis raak elkeen van ons wanneer ons gekonfronteer word met ons sonde en skande. Maar wanneer sonde soos ʼn siekte in ons binneste kom lê, is ons dikwels te skaam om vergifnis te vra.
In Psalm 51 sien ons ʼn man wat na aan God was, maar nogtans opgevreet word deur sy sondige optrede. Dawid se sondes is by ons almal bekend. Ons onthou toe hy Uria se vrou gesteel het en hom laat sterf het op die grens. Die profeet Natan konfronteer hom egter met die afskuwelike daad wat hy gepleeg het. Hy bely mettertyd sy sonde maar sy skuldgevoel kleef aan hom soos ʼn velsiekte; daar is geen uitkoms vir hom nie. Dawid se skreiende skuldgevoel dryf hom om dit voor God te bely. Hy bid dat God hom moet reinig met hissop, ʼn nederige plantjie met ʼn ryke betekenis in die Woord. Die kruid het medisinale eienskape en word deur die priesters gebruik om mense met velsiektes te reining. In sy diepe ellende bid Dawid dat God sy hande en sy hart moet “ontsondig met hisop” (vers 51:9). Sy gebed herinner aan ʼn melaatse wat smeek om genesing. Maar die belangrikste verwysing is natuurlik na Christus aan die kruis wat met ʼn spons wat in in hisop gedoop gelawe word terwyl hy die sonde – of besmetting – van die mensdom op hom neem.
Elkeen van ons word by tye gekonfronteer met die skrikwekkende gevolge van ons sonde wat nie uitgewis kan word nie. Tog het Jesus gesterf om ons te bevry van ons verleentheid oor ons sonde. Neem dus jou takkie hisop en leef in die lig van God se genade en vergifnis.
Gebed: Here, U bied my ʼn hisoptakkie om my sonde en skuld weg te was. Help my om die geur van u vergifnis rondom my te versprei. Amen