Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jesus se belofte aan ons - 12 Mei 2016

Neville Turley

 “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.  Johannes 14:15-17

Belangrike en dramatiese ontmoetings tussen God en die mens het dikwels op berge of heuwels plaasgevind.

Moses het die Tien Gebooie op die Berg Sinai ontvang.

Dit was op 'n hoë berg dat Petrus, Jakobus en Johannes die verheerliking van Jesus aanskou het. Hulle het God hoor sê: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” (Matteus 17:5)

Dit was op die Olyfberg waar Jesus aan sy dissipels gesê het dat hulle almal Hom daardie nag sou verlaat. Daar onder die olyfbome in Getsemane het Hy gebid, is Hy verraai en gevange geneem.

En dit was daar op die heuwel van Golgota, die Kopbeenplek, waar Jesus, verlate van hulle wat die naaste aan Hom was, sy lewe vir jou en vir my gegee het. Hy het dit gewillig en met liefde gedoen en selfs die donkerste dag in die geskiedenis van die wêreld vir ons verlig met 'n belofte.

Die belofte van die Heilige Gees waarna ons teksvers vandag verwys.

Die belofte kom egter met 'n voorwaarde: "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, …" Dit onderstreep God se opdrag aan Petrus, Jakobus en Johannes daar op die Berg van Verheerliking: "Luister na Hom.”

Vandag staan daar kerke en tempels op hierdie berge en heuwels waar die mens ontmoetings met God gehad het. Hierdie plekke word as heilig beskou, maar dit is nie die plekke wat heilig is nie, maar wel ons, die kinders van God.

Jesus beloof aan diegene wat Hom volg dat die Heilige Gees vir ewig by ons sal wees en in ons sal woon; dit is wat ons heilig maak.

Ons is God se tempel en heilig voor sy aangesig. Dit maak nie saak wat met ons gebeur nie, God is altyd by ons tot in ewigheid.

Gebed: Hemelse Vader, ons dank U vir die belofte dat die Heilige Gees altyd by ons en in ons sal wees. Gee aan ons die genade om Hom altyd te gehoorsaam. In Jesus se Naam bid ons dit. Amen

Previous article: Die belofte van blydskap - 13 Mei 2016 Prev Next article: Wees versigtig vir vals beloftes - 11 Mei 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.