Jubelende Josafat - 6 Junie 2016
Louise Gevers
Toe kom die Gees van die Here daar in die gemeente oor die Leviet Jagasiël seun van Sagaria, … en sê: “Luister, mense van Juda, inwoners van Jerusalem en koning Josafat! So sê die Here vir julle: Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie 'n saak vir julle nie, maar vir God. 2 Kronieke 20:14-15
Wat sal jy dink as jy televisienuus kyk en dit word aangekondig dat die Israeliese weermag sonder wapens op pad is om hulle land teen een van hulle vyande te gaan beskerm? En nog meer, die troepe word gelei deur 'n koor wat God al die pad loof en prys.
Vrydag het ons gelees dat Dawid erken het dat sy oorwinning oor Goliat aan die Here behoort, en toe Josafat koning van Juda was, het die Heilige Gees aan hom die krag gegee om dieselfde realiteit te erken. Josafat, 'n godvresende koning, gaan oorlog toe met sy leër sonder wapens, en hulle word gelei deur 'n koor wat God uit volle bors prys.
Ons lees dat: "Die Here was by Josafat, want hy het sy voorvader Dawid se vroeëre lewe nagevolg. Hy het nie die Baäls gedien nie, maar die God van sy vader. …" (2 Kronieke 17:3-4) Josafat het besef dat die onkunde onder sy mense rakende die Woord van God veroorsaak het dat hulle geestelik arm was. Daarom het hy amptenare en priesters uitgestuur om die Wet vir die mense te leer. Dit het so 'n diep invloed gehad dat "Al die lande rondom Juda was van skrik bevange vir die Here; … (2 Kronieke 17:10) en Josafat het 'n kragtige en ryk koning geword en vrede het geheers solank as wat hy die mense in die weë van die Here onderrig het.
Toe het hy God kwaad gemaak en probleme oor homself gebring. Hy het toegelaat dat sy seun trou met die dogter van koning Agab, 'n koning wat God se profeet, Miga, verwerp het ten gunste van diegene wat hom vertel het wat hy wou hoor. Josafat het wel besef dat Agab vals waardes gehad het en hom daaroor berispe. (2 Kronieke 18:7), maar tog het hy uiteindelik in sy koninklike gewaad saam met koning Agab gaan veg, 'n duidelike teiken vir die vyand. Maar toe hy om hulp roep was God getrou en het hom gered, en God het toegelaat dat Agab wat homself vermom het dodelik gewond is deur 'n pyl wat hom getref het tussen die skubbe van sy harnas en sy borsplaat. (2 Kronieke 18:33)
Godvresende mense maak soms foute wanneer hulle deur die kwaad wat oral in die wêreld is, weggelok word en nie gehoorsaam aan God is nie. God werk egter ten goede vir sy kinders en toe hy dit geleer het, het Josafat die Here selfs meer vertrou. Toe hulle opgetrek het om teen die groot leermagte van die Moabiete, Ammoniete en die mense van die Seïrberge te gaan veg, het hy het sy mense aangemoedig en gesê: "Stel julle vertroue in die Here julle God …" Hulle het op die Here vertrou vir die oorwinning en Hom aanbid. Die Here het dit bewerkstellig dat die vyand teen mekaar begin veg het.
Hoe wonderlik dat dit moontlik was vir Josafat en sy manskappe om "met groot blydskap terug Jerusalem toe [te gaan]. Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande." (2 Kronieke 20:27)
Gebed: Dankie getroue Heer dat aan u liefde daar geen einde is nie. Amen
Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.