Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Soos 'n boom (vervolg) - 2 Augustus 2016

Xanthe Hancox

Gister het ons gepraat oor hoe ons as Christene soos bome moet wees. Ons moet deur God geplant word en ons moet produktief wees en goeie vrugte dra.  Daar is twee verdere kenmerke van bome waarvan ons kan leer – bome is 'n lus vir die oog en hulle floreer.

Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here 'n veilige vesting is; so iemand is soos 'n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie  en altyd groen blare het; 'n droë jaar raak hom nie: en hy hou nie op om vrugte te dra nie.  Jeremia 17:7-8

Bome is 'n lus vir die oog. Kyk na die woorde in Jeremia: “en altyd groen blare het”. Nie net sal hierdie boom wat by water geplant is, vrugte dra nie, maar sy blare gaan nie verdroog nie. Hoekom het 'n boom blare? Daar is verskeie wetenskaplike redes, maar daar is ook 'n eenvoudige rede – 'n boom het blare om dit mooi te laat lyk.  Bome is bedoel om mooi te lyk, hulle is dikwels daar om die droeë en lelike landskap te verfraai.

Bome wat by waterstrome geplant is het 'n voortdurende bron van lewe en is vol groen blare wat nie verdroog nie.  Hulle is welig en altyd mooi.

Ons as Christene het ons eie bron van lewe – die Heilige Gees. Niks is mooier as 'n Christen wat onder leiding van die Heilige Gees leef nie.

Bome is voorspoedig. Die boom in Jeremia is nie bekommerd gedurende die warm, droeë seisoen nie. Hy stuur sy wortels uit na die stroom en bekommer hom nie oor die droogte nie.

Miskien ken jy iemand wat hom of haar op die oog af oor niks bekommer nie, altyd glimlag of loop en sing.  Dit is nie dat die wêreld sulke persone nie raak nie; hulle merk dit net nie op nie want hulle is naby aan die water.

Die Here is ons bron. As ons ons vertroue in Hom stel, het ons nie nodig om bang te wees nie.

Gebed: Here, help my om my vertroue in U te stel. Laat my soos 'n mooi boom volgens u wil groei. Amen.

Previous article: Die amandelboom – leef weer - 4 Augustus 2016 Prev Next article: Soos 'n boom - 1 Augustus 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.