Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die wildevyeboom – om Jesus beter te kan sien - 5 Augustus 2016

Xanthe Hancox

Hierdie boom word 'n hele paar keer in die Bybel genoem. In Amos 7:14 lees ons dat Amos wildevye bymekaargemaak het. Maar die bekendste wildevyeboom is ongetwyfeld die een wat Saggeus geklim het om Jesus te kan sien.

Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te klein was.  Lukas 19:3

Miskien ken jy die Engelse Sondagskoolliedjie oor Saggeus:

Zacchaeus was a wee little man

And a wee little man was he

He climbed up in a sycamore tree

For the Lord he wanted to see …

Dink net, wat sou gebeur het as Saggeus nie daardie dag in die boom geklim het nie?

Dit is maklik om drie hoofkarakters in hierdie storie raak te sien – Jesus, Saggeus en die skare. Daar is egter nog een, 'n belangrike een, die wildevyeboom. Was die boom nie daar nie, sou Saggeus net in die skare verlore geraak het.

Die wildevyeboom het Saggeus gehelp om beter te kon sien. Hy kon bo die skare uitstyg en Jesus duidelik sien. Dit het hom in 'n ideale plek geplaas vir die uitnodiging wat sou volg. Vir ons is die wildevyeboom simbolies van die plek in ons eie lewens wat ons help om Jesus beter te kan sien. En Saggeus het nie gehuiwer toe Jesus hom geroep het nie. Met dieselfde ywer waarmee hy in die boom geklim het, het hy afgeklim om in die teenwoordigheid van God te staan. Daar het hy die stem gehoor wat vir altyd sy lewe sou verander en hy het net so vinnig as wat hy in die boom geklim het, gereageer. Hy het geensins omgegee wat die skare van hom dink nie.

Waar ontmoet ons Jesus vandag? Hy is altyd daar vir hulle wat in die wildevyeboom klim om Hom beter te kan sien. Miskien is dit by jou werkplek of in ons verhoudings met ons gesinne.  Hardloop ons vooruit om Hom te ontmoet? Of is ons bang vir dit wat Hy van ons gaan vra?

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U steeds kom om te soek en te red wat verlore is. Gee dat ek myself vandag in 'n posisie sal plaas vanwaar ek U kan sien. Help my ook om 'n wildevyeboom te wees vir diegene rondom my, sodat hulle U beter kan sien. Amen.

Previous article: Die vyeboom (deel 1) – Bly soet - 8 Augustus 2016 Prev Next article: Die amandelboom – leef weer - 4 Augustus 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.