Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie man? Jesus begin - 14 September 2016

Danny Fourie

Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.” Johannes 2:3-4

'n Joodse bruilof is 'n gesellige ding. Dit is nie soos die meeste bruiloffeeste hier by ons nie: meestal in 'n stywe pak klere, lang tafels en lang toesprake. Die Jode vier sommer 'n hele week fees. Met so 'n fees begin Johannes sy verslag oor Jesus se werk op aarde. Johannes sê op die laaste bladsye van die Bybel dat die geskiedenis ook met 'n bruilof sal eindig.

Op die bruilof waar Jesus was, het 'n klein krisis ontstaan. Die mense het flink gedrink en halfpad deur die fees was al die wyn op. Die rabbi’s was lief om in daardie tyd te sê dat wyn die vreugde van 'n bruilof is. Die seremoniemeester het met sy hande in sy hare gesit en die pa van die bruid was verleë. Dis ongasvry as jy nie meer iets het om te drink nie. Wat nou? “Geen probleem nie”, het Maria gedink, “Jesus is mos hier.”

Op die oog af reageer Jesus bot op sy ma se vraag of Hy nie iets aan die probleem kan doen nie. “Ma, wat het ek met ma se probleem te doen? My tyd het nog nie gekom nie.” Maria hou haar besig met die wyn, maar Jesus hou Hom besig met die dieper dinge van sy Vader. Dit het Maria nie gesnap nie.

Daar was ses groot waterkanne wat nagenoeg 150 liter water gehou het. Jesus verander die water in wyn, uitstekende wyn. Johannes sê dat dit die eerste teken was wat Jesus gedoen het. Opvallend. Johannes noem dit nie 'n wonderwerk noem nie, maar 'n teken. Soos wat 'n bruilof sonder wyn minder aangenaam is, so is 'n lewe sonder God oppervlakkig en sonder blydskap.

Gebed: Dankie Jesus dat u gawe van die wyn na 'n groter gawe verwys. U kom vervul my diepste behoeftes en gee my blydskap. Amen

Previous article: Wie is hierdie man? Sy eerste teken - 15 September 2016 Prev Next article: Wie is hierdie man? Kind onder kinders - 13 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.