Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie man? Die duiwel kom met 'n toetsprogram - 16 September 2016

Danny Fourie

Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is.  Lukas 4:1

Jesus het net met sy werk begin of die slinkse duiwel kom aangeslenter, honger op soek na 'n prooi. So gaan dit. As jy besig is om vir God te kies of as jy iets vir God wil doen, sal die Satan alles doen om dit te voorkom. Hy stel nie belang in mense wat nie glo nie. Die kerk is sy werkterrein.

Dit is opvallend dat Jesus meteens aan die begin van sy aktiewe loopbaan as Verlosser met die Satan gekonfronteer word. Die Gees het Hom na die woestyn gebring. God wil dus dat Jesus self die konfrontasie met die Satan beleef.

Dit is asof die Heilige Gees duidelik wil maak dat die Satan sy grootste teenstander is en gaan wees. Op aarde gaan Jesus nie maar net te make hê met lastige mense nie, maar veral ook met die Satan.

Ons kyk op die wêreld is beperk. Die Bybelboek Openbaring laat ons soos vanuit 'n ruimteskip deur die oë van God na die klein aardbol kyk. God laat ons sien wat werklik gebeur. Daar in Openbaring lees ons oor Kersfees. Die draak het voor die vrou gestaan toe sy geboorte wou gee, gereed om sodra sy die kind in die lewe bring, Hom te verslind.

Agter alles wat ons sien, is daar 'n stryd tussen die Satan en sy trawante en Jesus en sy volgelinge. Die Bybel sê dit self: Ons veg nie teen mense nie, maar teen die bose geeste in die hemelse geweste. 'n Mens kan ook sê teen die kwaad wat in die lug hang.

Hoe reageer Jesus op die aanvalle van die Satan? Hy bly gehoorsaam aan die Woord van God.

Gebed: Dankie Here Jesus dat U die stryd met die Satan aangepak het en gewys het dat U hierdie bose teenstander ter wille van my wil verslaan. Amen

Previous article: Wie is hierdie man? Jesus se mag as leraar - 19 September 2016 Prev Next article: Wie is hierdie man? Sy eerste teken - 15 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.