Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 8: God kan jou situasie omdraai - 12 Oktober 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Trane het oor die 23-jarige kelner se wange gevloei toe sy na haar betaalstrokie kyk. Nie omdat sy geen fooitjie ontvang het nie, maar weens die vyandige woorde van die twee klante wat sy deurentyd vriendelik en met goeie diens bedien het. Op grond van haar velkleur het hulle geweier om vir haar iets te gee. 

Die twee klante het verder gegaan en ’n foto van die strokie op sosiale media geplaas. Hulle het gedink dat hulle steun vir hulle optrede gaan ontvang. Die publiek was egter woedend. Die foto en storie het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei wat geldinsamelingsinisiatiewe vir die kelnerin spontaan laat begin het. Binne ’n paar dae kon ’n lywige bedrag geld aan die kelnerin oorbetaal word (selfs meer as wat sommige kelners in ’n jaar verdien).

Die kelnerin se reaksie in ’n Facebook-inskrywing nadat sy die geld ontvang het, het my geraak. Sy skryf: “Ek is oorweldig. Geen woorde kan beskryf hoe ek voel nie. My ma is met kanker gediagnoseer en ek het uit my werk bedank om na haar om te sien. Met hierdie geld sal ek dit kan doen.” Het God haar situasie geken? Natuurlik.

Josef was in ’n soortgelyke situasie. Eers verwerp deur sy broers. Later ook deur Potifar voordat hy in die Egiptiese tronk gegooi is. Alhoewel niks sin gemaak het nie, het Josef aangehou om te vertrou dat God in beheer van sy lewe was. In een dag is hy van gevangene tot onderkoning van Egipte verhef. 

Luister na Josef se woorde toe sy broers kom graan koop in Egipte en hulle besef dit is hy voor wie hulle staan: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het” (Genesis 50:20). Ook in Psalm 25:9 lees ons: “Hy (God) laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad.” God het Josef strategies geplaas op ’n plek waar hy vir sy familie kon omsien tydens die hongersnood in die land. Het God sy situasie geken? Natuurlik.

Wat is vandag jou uitdaging? ’n Onredelike baas of agterbakse kollegas wat jou depressief en moedeloos laat? ’n Uitdaging in jou persoonlike lewe wat elke dag vererger? Kom ons leer van die Kaapse kelnerin en ook uit Josef se lewe deur getrou aan God te bly met die wete dat Hy dinge ten goede kan laat meewerk vir diegene wat Hom lief het. Onthou, Hy sien die groter prentjie raak en wie weet, dalk is Hy besig om dinge strategies in plek te plaas dat jy ook binne ’n dag verhef kan word. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U alles van my weet en dat U reg in my situasie kan laat geskiet. Help my asseblief om my oë op U te hou in elke vyandige situasie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

  • Sien foto van die kelner by www.benescke.co.zaof op die sosiale media, Fbook se bladsy, Stories van hoop.

Opdrag vir die dag:  Wat is vandag vir jou ’n uitdaging? Skryf dit neer. Kies dan om in alle omstandighede aan God getrou te bly en Hom te dank dat Hy besig is om die uitdagende situasie ten goede te laat meewerk vir jou.

Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke

Previous article: Dag 9: Hy kan jou gebrokenheid genees - 13 Oktober 2016 Prev Next article: Dag 7: Hy kan ons hoor as ons bid - 11 Oktober 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.