Dag 16: Hy wil die beste vir ons hê - 24 Oktober 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
Tien jaar lank het ’n naamlose Filippynse visserman ’n tamaai pêrel van 34kg onder sy bed versteek. Hy het geglo dat dit vir hom ’n gelukbringer is. Eers toe sy houthut afbrand, het hy dit aan toerisme-beamptes gewys wat bepaal het dat dit sowat R1,3 miljard werd is.
Omdat die visserman nie die waarde van die pêrel besef het nie, het hy vir ’n dekade lank ’n sukkelaarsbestaan gevoer en in sy klein, vervalle houthutjie gebly. Eers toe sy huis afbrand en hy alles “verloor” het, het hy besef wat hy eintlik gehad het.
Dít is dieselfde vir ons lewens. Uit vrees vir verwerping of uit onkunde of selfs omdat ons aanvaar dat ’n “sukkelbestaan” die kaart is wat ons ontvang het, mis ons God se lewe in oorvloed wat Hy vir ons beplan.
Dawid het dit verstaan. In Psalm 139:16-18 skryf hy: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”
Vrees kan egter veroorsaak dat ons soos die naamlose visserman passief raak. Ons dink dit is veiliger om die geskenk (of droom) wat God vir ons gegee het onder die bed te bêre. Ons oorleef eerder as werklik te leef. Seerkry verhoed ons byvoorbeeld om soms weer te waag om lief te hê. ’n Vrees vir verwerping weerhou ons byvoorbeeld om ’n besigheidsplan ’n werklikheid te maak terwyl ons eerder in ’n beroep bly waarvoor ons reeds lankal ons passie verloor het.
Wat is daardie droom vir jou soos die visserman se pêrel onder die bed? Kom ons neem vandag die stap van geloof en gesels met God daaroor. Kom ons vra Hom om ons met wysheid en kreatiwiteit te lei om dit ’n werklikheid te maak. Die waarde daarvan mag ons dalk ook verstom laat! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir die geskenk van u Woord. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om te verstaan wat ek lees en om U karakter beter te leer ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk na foto’s van die tamaai pêrel en die visserman by www.benescke.co.za of op die Stories van hoop bladsy op Facebook.
Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na