Wandel met God in gehoorsaamheid: Noag - 26 Junie 2017
Louise Gevers
Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit 'n deel van jou lewe. So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens. Spreuke 3:3,4
Maar Noag is deur die Here begenadig.” Genesis 6:8
Stel jou voor om een van die wêreld se eerste skeepsbouers te wees, en dit in opdrag van God om 'n ark te bou volgens streng instruksies wat die materiaal en afmetings betref. Dink net, om 'n boot te bou, die lengte van een en 'n halwe sokkerveld, so hoog soos 'n vier verdieping gebou en waarin die ekwivalent van een honderd en twintig duisend skape gehou kan word. (https://www.bobnefftours.com/the-ark-encounter) "Noag het alles gedoen soos die Here hom beveel het." (Genesis 7:5)
Alhoewel daar baie mense is vir wie die bestaan van die ark moeilik is om te glo, het dr Seon Hong in 'n Koreaanse studie in 1993 geen probleme met die afmetings van die ark gevind nie en volgens hom was dit seevaardig en sou dit golwe van so hoog as 100 voet kon hanteer. (https://beyondflannelgraph.wordpress.com/the-ark/how-big-was-the-ark) Dit is baie interessant dat die konstruksieplan vir die ark 'n verhouding van 1:6 gebruik het wat volgens skeepsbouers die mees stabiele verhouding is vir enige seevaartuig en dat dit die omslaan daarvan feitlik onmoontlik sal maak.
Die ironie van die saak is dat selfs in Noag se tyd mense nie in die ark en waarvoor dit gestaan het, geglo het nie. Noag is seker gespot omdat hy dit gebou het. Nêrens lees ons dat mense aangebied het om hom te help nie, of by hom aangesluit het nie, selfs nie eers toe dit begin reën het nie.
Die Bybel sê: "Noag was 'n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef." (Genesis 6:9) Maar "die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot." (Genesis 6:11,12) Dit was so erg dat, die Here gesê het: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.” (Genesis 6:7)
God was diep bedroef, netsoos 'n ouer wie se kind se gedrag daartoe gaan lei dat hy gestraf moet word eerder as om die beloning wat die ouer met liefde vir die kind voorberei het, te ontvang; maar Noag is deur God begenadig en Hy het aan hom 'n uitweg gegee om nie deur die vloed vernietig te word nie en hom en sy gesin te red.
Selfs op hierdie stadium kon Noag nog gerebelleer het en geweier het om die ark te bou, maar die slim ding om te doen is om nederig en gehoorsaam te wees want dit sal lei tot vervulling ten spyte van die feit dat 'n mens die selfbestuur van jou lewe verloor. Jesus bevestig dit wanneer Hy ons leer: "want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry." (Matteus 16:25) Aangesien Noag 'n gehoorsame man was het hy die ark gebou en uiteindelik het die dag aangebreek dat hy, sy familie en pare van alles wat leef die ark ingegaan het. "En toe het die Here die ark agter Noag toegesluit." (Genesis 7:16)
Dink net, om deel te kan wees van diegene wat die groot vloed oorleef en opnuut begin in die nuwe wêreld sonder sonde. Sal ons in die ark wees?
Gebed: Hemelse Vader, help my om gehoorsaam aan U te wees en u genade te leer ken deur Jesus Christus my Verlosser. Gee dat ek deur u genade die hemel sal binnegaan. Amen