Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Op Christus se gebedslys - 31 Julie 2018

Hennie Symington

“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het … Ek bid vir hulle. … Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom.  Johannes 17:6,9,20

Besef jy dat jy lank reeds voor jou geboorte al op Christus se gebedslys was? Ongelooflik maar waar! Hoe so? In die week voordat Jesus gekruisig is, was Hy voortdurend in gesprek met die Vader oor wat Hy bereik het gedurende sy tyd op aarde. En nou het Hy sy opdrag voltooi. Hy het die Woord aan die wêreld gebring en was dus gereed om terug te keer vanwaar Hy gekom het.

Tog is Hy diep besorg oor sy volgelinge wat agterbly in die wêreld en in sy gesprek met God voordat Hy terugkeer na sy vaderhuis, bid Hy met diepe erns dat God oor hulle sal waak. Daarna bid Hy vir jou, en my en almal wat nog tot geloof sou kom deur die getuienis van die eerste dissipels. Hy bid dat ons een met Hom en alle gelowiges tot in die verre toekoms sal wees. 

Hoe wonderlik is dit dat God ons alreeds in sy gedagtes gehad het nog voordat ons gebore is. En dat Christus ons reeds aan God opgedra het. Ongelooflik? Nee, net God se versiende en allesomvattende genade.

Gebed: Vader, hoe wonderlik dat U ons al reeds in u gedagtes gehad voordat ons in die moederskoot ontvang is. U is inderdaad ons ewige en getroue Vader. Amen

 

Previous article: Jona: Die storie agter die storie - 1 Augustus 2018 Prev Next article: Van aangesig tot aangesig met God - 30 Julie 2018 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.