Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 1 Augustus 2011

Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms

DAG 21: WAT IS JOU KAMEEL?

Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Bekende Arabiese legende lui soos volg: In die winderige woestyn waardeur die Arabier en sy kameel getrek het, het die skemer neergedaal. ’n Sandstorm het skielik opgesteek en die Arabier het vinnig sy tent opgeslaan en daarin geklim.

Die storm het voortgeduur en na ’n paar minute het die kameel sy neus binne die tent ingewurm met die woorde: “Meester asseblief, dit is koud en sanderig hier buite. Kan ek net my neus binne die tent sit?” Die Arabier het die kameel jammer gekry en dit toegelaat.

Minute later het die Arabier wakker geword en gesien hoe die kameel besig was om sy hele kop binne die tent in te stoot. “Asseblief meneer...” het die kameel weer begin. “Dit is koud hier buite. Kan ek net my kop binne die tent sit?” Weer het die Arabier dit toeagelaat aangesien hy steeds gemaklik in sy tent kon rondbeweeg.

Die patroon het hom gou herhaal. Eers was dit net die kameel se neus, toe sy kop, toe sy voorpote en toe die Arabier sy oë uitvee het die kameel sy tent oorgeneem terwyl hy alleen buite in die koue gelaat is!

Ons almal het kamele wat daagliks smeek vir toegang tot ons lewens. Jou kameel mag dalk daardie aantreklike sekretaresse of kollega by jou werk wees – terwyl jy getroud is. Of dalk is dit jou dobbelverslawing, drank, pornografie, leuens of skinder?

Aanvanklik lyk enige kameel onskuldig en beheerbaar. Dit is wat Dawid, die Psalmdigter, ook gedink het. Toe hy teen laatmiddag die beeldskone Batseba van sy paleis se dak raakgesien het, het hy nie sy kop weggedraai nie. Só het hy die kameel se neus in sy tent toegelaat. Toe Dawid dié getroude vrou laat haal, het die kameel sy kop in sy tent ingewurm. En toe Dawid met haar owerspel pleeg, sy swanger word en hy ’n plan bedink om sy sonde toe te smeer, het die kameel Dawid se tent oorgevat, terwyl dit hom alleen in die koue woestyn agtergelaat het.

Luister egter weer na Dawid se woorde van berou in Psalm 51:3-5,12,18: “Wees my genadig, o God, in u troue liefde. Wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë... Skep in my ’n rein hart o God... ’n Offer vra U nie... die offer wat U wil hê, o God is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie..”

God wil hê dat ons berou moet hê oor ons sonde sodat Hy ons daarvan kan vrymaak. Wat is die kamele wat vandag vir toegang tot jou lewe smeek? Of is van hulle dalk reeds binne jou tent? Stoot hulle uit en draai terug na God. Ek kan jou waarborg, as jy werklik berou het, staan Hy reeds met oop arms en wag vir jou! Sterkte.

Vader God, dankie dat ek weet dat U ’n God van tweede kanse is. Help my asseblief om my kamele in my lewe te identifiseer en uit my lewe te stoot voordat dit te laat is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.

NUUSBROKKIES:

  • ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.

  • PRAATJIE:

  • Benescke tree op as spreker by:

  • Dinsdag, 9 Augustus 2011: By die Logos Kerksaal in Bellville. Kontakpersoon: Mari van Eeden by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

 TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

 HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

 

 

 

Previous article: Vers n dag - 2 Augustus 2011 Prev Next article: Vers n dag - 29 Julie 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.