Louise Gevers

Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof sy heilige Naam! Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.  Psalm 30:4-5

Slegte goed moet nie met goeie mense gebeur nie, of hoe? Baie mense wat dit sê wanneer slegte goed gebeur wat hulle nie verstaan nie en vir hulle onregverdig lyk, praat gewoonlik wanneer hulle emosioneel is of uit empatie en nie met gesonde oordeel nie. God alleen verstaan die situasie en kan vertrou word want Hy "is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen." (Psalm 145:17) Hy is "naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep." (Psalm 145:18) Hy kan in alle omstandighede vertrou word.

Op 'n stadium in bybelse tye was daar 'n man wat hierdie les geleer het toe, kort op mekaar, die een tragedie na die ander hom getref het en diepe angs veroorsaak het. God het hiervan geweet en Hy het dit toegelaar sodat die man deur hierdie ondervinding wonderlike lesse oor God kon leer. Hy het die man uiteindelik meer geseën as wat die geval voor die begin van al die probleme was. (Job 38-42)

Dit was Job. "Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy." (Job 1:1) Die Here het hom met 10 kinders en baie diensknegte en kleinvee geseën. Job was so opreg dat hy daagliks namens sy kinders brandoffers gebring het, vir in geval hulle gesondig het. Op 'n dag het die Here Satan toegelaat om Job se getrouheid aan Hom deur lyding te toets en so sy onskuld te bewys.

Tragedies en rampe het gevolg. Sy vee is gesteel en sy diensknegte is in aanvalle doodgemaak; sy skape is deur weerlig getref; sy kinders het gesterf terwyl hulle fees gevier het en 'n kragtige woestynwind die dak van die huis waar hulle was laat inval het. Na die gebeure het "Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê: Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” (Job 1:21-22)

Toe is Job se liggaam met sere oortrek. Sy vrou het by hom gepleit om God te vervloek en te sterf. Toe het sy drie vriende kom simpatiseer, maar hulle was so geskok deur sy voorkoms en lyding dat hulle vir sewe dae in stilte by hom gesit het. Toe hulle uiteindelik praat, het hulle raad net sy lyding vererger. Job het een vriend se gespot geantwoord deur te sê: "Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir Hom stel. Dit kan selfs my redding wees, want geen godlose durf voor Hom kom nie." (Job 13:15-16)

In ons lewens ondervind ons almal lyding. Normale en gelukkige omstandighede kan ewe skielik omgekeer word. Soos vir Job, is die wrede verlies, pyn en lyding wat ons beleef, 'n werklikheid. Kan ons in sulke omstandighede vier? Deur geloof kan ons. Wanneer dinge buite ons beheer gebeur, is die Here die Een wat ons kan help. Hy sal dit in tyd saam met ons deurwerk. Dit is 'n feit wat ons werklik kan vier.

"Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring." (Klaagliedere 3:31-33)

Gebed: Here, in u groot liefde vir ons laat U tog lyding in ons lewens toe sodat ons sterker kan word en in ons geloof kan groei en kan besef dat ons volkome van U afhanlik is. Ons weet dat U alleen vreugde deur lyding kan bring. Amen