Hennie Symington

Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van die Skepper en tot die volle kennis van God.  Kolossense 3:9-10

Waarheid en eerlikheid is maar skaars in ons alledaagse omgang met mense. Wanneer presidente en politici, publieke figure en ander sogenaamde gemeenskapsleiers gladweg lieg en steel, dan wil dit lyk asof eerlikheid ệrens langs die pad soek geraak het.

Om te lieg, is nie wenslik of aanvaarbaar nie, tog het sommige van ons dit tot 'n fyn kuns verhef. Dit is nie 'n leuen om te sệ dat die meeste van ons oneerlikheid maklik onder die knie kry. Die waarheid is dat lieg 'n maklike gewoonte is om aan te leer, maar 'n uiters moeilike gewoonte is om af te leer. Trouens, hoe meer jy lieg, hoe makliker word dit.

Hoekom is leuens so gevaarlik? Eerstens skep dit 'n afstand tussen jou en die wat vir jou lief is en vir wie jy lief is. Erger nog, is dat dit skeiding bring tussen jou en jou Skepper. Daarby ontstel dit mense in jou nabyheid wat hulle bes probeer om nie te lieg nie. As Christene, moet ons 'n voorbeeld wees vir ander wat swak is.

Gebed: Here, ek skaam my vir die sogenaamde klein leuentjies wat uit my mond kom. Leer my om by die waarheid te bly sodat ek voor U kan staan met 'n rein hart en 'n skoon gewete. Amen