Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 5 Oktober 2011

Beding beter kanse: ek eerste?

Neville Turley

Matteus 20:20-21

Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom 'n guns te vra. “Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar. Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

Stel jou voor, Jesus het sy twaalf dissipels (nie hulle ma’s nie) opsy geneem om met hulle te praat. “Kyk,” sê hy vir hulle “ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”

Alhoewel Jesus die nuus in privaatheid met sy dissipels gedeel het, gaan vertel Jakobus en Johannes dit vir hulle ma. Gou kom sy na Jesus toe en smeek hom om tog haar twee seuns bo die ander te stel wanneer Hy koning word.

Natuurlik was die ander dissipels kwaad want na hulle mening het Jakobus en Johannes hulle ma gebruik om vir hulle beter posisies in die koninkryk te beding. Die Bybel vertel ons dat die ander tien dissipels kwaad was vir die broers omdat hulle probeer het om belangriker as hulle te wees.

Jesus het die dissipels nader geroep. Hy het alle reg gehad om kwaad te wees vir die twee broers. Net ‘n rukkie gelede het hy aan hulle vertel dat Hy gemartel gaan word en sal sterf. Maar is Hy kwaad? Inteendeel. Hy sien die situasie as ‘n geleentheid om sy dissipels te leer.

Hy verduidelik vir hulle dat alhoewel dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik, dit nie so onder sy dissipels moet wees nie. Die een wat groot wil wees, moet gewillig wees om die slaaf van die ander te wees. Grootheid lê nie daarin dat ander jou dien nie, maar om ‘n dienaar van ander te wees.

Dit is ‘n uitdaging vir elke Christen, ook vir jou en vir my!

Gebed: Hemelse Vader skenk aan my genade om nie my eie selfsugtige behoeftes eerste te stel nie, maar om U te gehoorsaam en ander te dien. Ek vra dit in u Heilige Naam. Amen.

Previous article: Vers n dag - 6 Oktober 2011 Prev Next article: Vers n dag - 4 Oktober 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.